Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 1 October 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met krieket: Die Proteas se toetstoer na Bangladesj gaan dié maand voort nadat ‘n sekerheidsondersoek gedoen is na politieke onrus in die Suid-Asiese land. Die twee spanne pak mekaar in twee toetse. Die eerste begin die 21ste in Dhaka en die tweede die 29ste in Chattogram. Die vroue T20-Wêreldbekertoernooi, wat Donderdag begin, is na die Verenigde Arabiese Emirate verskuif nadat eerste minister Sheikh Hasina se regering in Augustus omvergewerp is.
Twee Suid-Afrikaanse wedstrydbeamptes gaan intussen betrokke wees by die Wêreldbekertoernooi. Lauren Agenbag is aangewys as veld-skeidsregter en Shandré Fritz as wedstryd-skeidsregter op die elite-paneel wat net uit vroue bestaan. Bangladesj en Skotland open die toernooi in Sharjah, gevolg deur die wedstryd tussen Pakistan en Sri Lanka op dieselfde veld. Suid-Afrika speel Vrydag teen die Windies. Die eindstryd vind die 20ste in Dubai plaas.
# Vervolgens, tennis: Die plaaslike promotorskeuse, Bu Yunchaokete, speel vandag teen die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, in die halfeindronde van die Chinese Ope in Beijing. Die 22-jarge Bu het die wêreld-nommer-ses, Andrey Rublev van Rusland, in skoon stelle geskok nadat hy vroeër ook die wêreld-nommer-19, Lorenzo Musetti van Italië, uitgeskakel het. Sinner het deurgedring toe hy die Tsjeg Jiri Lehecka verslaan het. Hy of Bu speel in die eindstryd teen Carlos Alcaraz van Spanje, wat die Rus Daniil Medvedev in die ander halfeindstryd geklop het.
# Motorsport is volgende aan die beurt: Die Franse vervaardiger, Renault, het aangekondig hy gaan sy Formule Een-enjinprogram ná die 2025-seisoen beëindig. Die besluit kom in aanloop tot die bekendstelling van nuwe F1-enjinregulasies in 2026. Dit beteken Renault se Alpine-span sal enjins by ‘n ander vervaardiger moet koop. Volgens berigte sal hulle hiervoor ʼn ooreenkoms met Mercedes aangaan. Alpine is negende uit die tien spanne in die Vervaardigerskampioenskap met net ses wedrenne wat oorbly.
# Ons sluit af met sokker: Die president van die Kameroense Sokkerfederasie, Samuel Eto’o, mag vir ses maande nie nasionale mans- of vroue-wedstryde bywoon nie weens aanstootlike en wangedrag. Dit hou verband met verlede maand se Fifa Onder 20-vroue-Wêreldbekerwedstryd tussen Kameroen en Brasilië. Die gewese doelskopper van Barcelona en Chelsea is skuldig bevind aan aanstootlike gedrag en skending van die beginsels van skoon spel en wangedrag deur spelers en beamptes. Fifa het nie besonderhede van Eto’o’ se gedrag bekendgemaak nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….