Nuus 09:00
BULLETIN 30 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile sê die regering het ‘n plan om grondhervorming te versnel
# Israel en Hamas stem in om polio-inenting in Gaza toe te laat
# En tennis: Carlos Alcaraz word uitgeskakel in die Amerikaanse Ope
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê daar is planne om regeringsprogramme te koördineer om grondhervorming en ondersteuning aan landbou te versnel. Hy het in Kaapstad met die minister van Landbou, John Steenhuisen, en minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, vergader. Landbou bly ‘n belangrike sektor van die ekonomie wat 40-persent van die bruto binnelandse produk bydra. Mashatile sê voedselsekerheid is belangrik:
# President Cyril Ramaphosa woon vandag die ondertekening by van die samewerkingsooreenkoms om misdaad in die Wes-Kaap te bestry. Hy is die hoofspreker tydens die geleentheid wat gelei sal word deur die minister van Polisie Senzo Mchunu, premier Alan Winde en burgemeester Geordin Hill-Lewis. Die ooreenkoms is gemik op die versterking van samewerking om teen misdaad op te tree en openbare veiligheid te verbeter deur gemeenskapsgedrewe inisiatiewe en die integrasie van bronne. Dit volg na onlangse belanghebber-besprekings met gemeenskapspolisieforums, geestelike organisasies en besighede.
# Die GOOD-party sê die vermindering in onderwysposte in die Wes-Kaap sal die reg van kinders tot basiese onderrig regstreeks raak, asook die gehalte van onderrig wat hulle in staatskole ontvang. Die provinsiale Onderwysdepartement beplan om twee-duisend-407 poste van Januarie volgende jaar af te skaf weens begrotingsbesnoeings. Die GOOD-party se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê dit is die armer skole en diegene met minder hulpbronne wat weer eens die ergste deur die verminderings geraak word:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê Israel en Hamas het ingestem om gevegte in Gaza tydelik te staak sodat inenting van kinders teen polio gedoen kan word. Die veldtog, wat Sondag begin, mik na die inenting van sowat 540-duisend kinders oral in die Gaza-strook. ‘n Tien-maande-oue baba is gedeeltelik verlam na sy die eerste polio-geval in Gaza in 25 jaar geword het. Michael Ryan van die WGO sê hulle gaan probeer om 90-persent van alle kinders in die Gaza-strook in te ent:
# Tennis: Die Nederlander Botic van de Zandschulp het die Roland Garros- en Wimbledon-kampioen, Carlos Alcaraz in die tweede ronde van die Amerikaanse Ope uitgeskakel. Die wêreld se nommer 74 het die wêreld se nommer drie met 6-1, 7-5, 6-4 geklop en die Spanjaard se droom op ‘n derde agtereenvolgende titel aan skerwe laat spat. Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië het sy 50ste seisoensoorwinning behaal deur die Amerikaner, Alex Michelsen met 6-4, 6-0, 6-2 te klop om na die derde ronde deur te dring. In die vroueafdeling het die eerste gekeurde Iga Swiatek van Pole die Japanner Ena Shibahara met 6-0, 6-1 verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-65-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-514-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….