Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Santa-skoenboksprojek het meer as tienduisend span-beloftes ontvang. Die skoenbokse word jaarliks by meer as ‘n duisend opvoedkundige en sorgsentrums onder minderbevoorregte kinders versprei. Meer as 60 satelliet-punte in Suid-Afrika en Namibië is hierby betrokke. Span-beloftes moedig groepe aan om 20 of meer skoenboks-beloftes te organiseer om die gees van vrygewigheid te bevorder. Die skoenboks neem ʼn kind se ouderdom en geslag in ag en enige persoon kan een borg of self voorsien. Mense kan van Sondag af individuele beloftes maak.
# Die Universiteit van Kaapstad se hoof van die afdeling vir globale sjirurgie, Salome Maswime, is aangewys om ʼn nuwe samewerkingsentrum van die Wêreldgesondheidsorganisasie te lei. Die sentrum sal voorkeur gee aan doeltreffende organisasie, beplanning en die beweging van pasiënte in die gesondheidstelsel. Die doel is om tydige toegang tot gehaltesorg te verseker wat aan gebruikers se behoeftes voldoen. Die WGO het samewerkingsentrums in meer as 80 lidlande. Maswime sê dis ʼn nuwe begin om wêreldgesondheid, veral in Afrika, positief te beïnvloed.
# Die Universiteit van Pretoria se JuniorTukkie-program het sy 20se verjaardag gevier met dinamiese kampusaktiwiteite wat die program se blywende uitwerking op die lewens van studente tentoongestel het. JuniorTukkie het die afgelope 20 jaar ‘n noodsaaklike rol gespeel in die toerus van studente met vaardighede en emosionele intelligensie wat nodig is om op universiteit en daarna te floreer. Sedert die bekendstelling in 2004 het meer as tien-duisend studente die program deurloop. Die universiteit sê JuniorTukkie bly verbind tot die ontsluiting van die volle potensiaal van die land se jeug.
# Die country-musieklegende Dolly Parton se Imagination Library boekskenkingsprogram brei steeds uit. Sedert die aanvang van die program, is boeke aan meer as 240-miljoen kinders in Amerika, Kanada, Brittanje, Ierland en Australië uitgedeel. Die program in Amerika is nou na verskeie state soos Missouri en Kentucky uitgebrei. Parton sê dit was haar visie die afgelope dertig jaar om geletterdheid te verbeter:
# En ten slotte: ‘n Israelse museum het ‘n kleuter en sy gesin teruggenooi nadat die kind per ongeluk ‘n eeue-oue artefak gebreek het. Die vier-jarige het die Hecht-museum in Haifa besoek saam met sy pa, Alex. Die seun was glo nuuskierig oor wat in die drie-duisend-500-jaar-oue kruik was, wat gebruik is om olyfolie en wyn te berg en te vervoer. Dit is kenmerkend van die antieke streek Kanaän en kom uit die tyd voor die Bybelse konings Dawid en Salomo. Die museum sê die gesin is welkom om terug te kom om die herstelde kruik te sien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….