Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staat vra die hof om voort te gaan met die geskeduleerde verhoordatums in Zuma se saak
# Die Konstitusionele Hof wys Shell se appèl van die hand oor die Wildekus-ontginningsregte
# En, rugby: Die Stormers skop die Kampioenebeker teen Toulon in Gqeberha af
# Staatsaanklaer Billy Downer het die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, aangemoedig om voort te gaan met die geskeduleerde wapentransaksie-verhoordatums, ondanks oudpresident Jacob Zuma se voortgesette poging om hom te verwyder. Zuma se regspan het onlangs probeer appelleer teen regter Nkosinathi Chili se weiering om Downer te verwyder, en eis redes vir die regter se besluit. Downer betoog die verhoor moet soos beplan in April volgende jaar voortgesit word:
# Die Konstitusionele Hof het Shell en Impact Africa se appèl van die hand gewys teen ‘n bevel wat hulle ontginningsregte aan die Oos-Kaapse Wildekus ongeldig verklaar het. Die hof het bepaal daar is geen redelike vooruitsig op sukses vir die appèlaansoek nie. Die hof sal na verwagting plaaslike gemeenskappe se kommer aanhoor oor die regering se oorweging van die hernuwings-aansoek. Die inwoners betoog die vorige uitspraak beskerm nie hulle regte nie, en sê daar was onvoldoende openbare raadpleging.
# Aartappels SA wys daarop die pryse van Suid-Afrikaanse aartappels het binne ‘n week met 15-persent gestyg, nadat verwoestende swartryp oeste verweer het in Limpopo – ‘n belangrike produksiestreek. Data toon die gemiddelde prys van ‘n tien-kilogram-sakkie het tot meer as 85-rand gestyg en selfs tot 100-rand in Mbombela in Mpumalanga, en in Kaapstad. Die verslag toon hierdie skerp styging het plaasgevind ondanks ‘n afplatting in voedselinflasie, en onderstreep die gevolge van slegte weer op stapelvoedselvoorraad in die land.
# Rugby: Die Stormers kom aan die begin van die nuwe Kampioenebeker-seisoen in Gqeberha te staan teen die Franse span Toulon. Die wedstryd word op die 7de Desember in die Nelson Mandelabaaistadion gespeel. Dit is verskuif vanaf die Kaapstad-stadion omdat die Suid-Afrikaanse skof van die wêreld-sewesreeks daardie naweek daar plaasvind. Die Stormers het twee jaar gelede in die Oos-Kaap teen die Dragons gespeel, en afrigter John Dobson sê dit was ‘n fantastiese ervaring.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-785-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-522-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-51-sent per vat.
# En ten slotte: Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het onthul Limpopo het in 2022 een van die laagste MIV-voorkomskoerse onder Suid-Afrikaanse provinsies gehad. Die koers het gedaal na 8,9-persent van 10,1-persent in 2017. Daarvolgens leef ongeveer 570-duisend mense in Limpopo met MIV, wat ‘n afname van twee-persent is van die 580-duisend gevalle wat in 2017 aangemeld is. Professor Khangelani Zuma sê verskeie faktore kan verantwoordelik wees vir die daling:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….