Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Konstitusionele Hof het Shell en Impact Africa se appèl van die hand gewys teen ‘n bevel wat hulle ontginningsregte aan die Oos-Kaapse Wildekus ongeldig verklaar het. Die hof het bepaal daar is geen redelike vooruitsig op sukses vir die appèlaansoek nie. Die hof sal na verwagting plaaslike gemeenskappe se kommer aanhoor oor die regering se oorweging van die hernuwings-aansoek. Die inwoners betoog die vorige uitspraak beskerm nie hulle regte nie, en sê daar was onvoldoende openbare raadpleging.
# Minstens drie mense is dood nadat ‘n tifoon die suide van Japan getref en vrese laat ontstaan het vir oorstromings, grondstortings en uitgebreide skade aan geboue. Nog ‘n persoon word vermis, en talle is beseer nadat Tifoon Shanshan die eiland Kyshu getref en deur verskeie streke getier het. Die owerhede het ontruimingsopdragte uitgereik vir miljoene inwoners weens stortreën en sterk wind van tot 180-kilometer per uur. Shanshan is die jongste weerstelsel wat Japan tref. Tifoon Ampil het vroeër die maand kragonderbrekings en ontruimings veroorsaak.
# En ten slotte: Honderde-duisende dooie visse bedek ‘n Griekse toeristehawe, met owerhede wat in aller yl probeer opruim. Dit is nou ‘n wedloop teen tyd om die tonne dooie vis te versamel en te verwyder voordat die reuk nabygeleë restaurante en hotelle bereik. Die burgemeester van Volos, Achilleas Beos, waarsku die verrottende vis kan tot ‘n omgewingsramp lei vir ander spesies in die gebied. Die ramp is maar die jongste gevolg van uiterste weer weens klimaatsverandering. Griekeland het vanjaar verwoestende veldbrande beleef en wisselvallige reën het ook vloede veroorsaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….