Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra ‘n verslag aan van die minister van Justisie oor die VBS Bank-korrupsiebewerings
# Die Regterlike Dienskommissie bevind ‘n regter van Gauteng onskuldig aan growwe wangedrag
# En, boks: Minister McKenzie gaan Boks Suid-Afrika se raad ontbind
# President Cyril Ramaphosa is besorg oor mediaberigte wat beweer die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, word by korrupsie betrek. Daar word beweer sy het op ‘n onbehoorlike wyse geld van VBS Mutual Bank ontvang tydens haar ampstermyn as burgemeester van die Polokwane-munisipaliteit in Limpopo. Ramaphosa het ‘n omvattende verslag en voorlegging van Simelane aangevra oor die bewerings.
# Die Regterlike Dienskommissie het ‘n regter van die Gautengse Hooggeregshof, Nomonde Mngqibisa-Thusi, onskuldig bevind aan growwe wangedrag, wat haar in ‘n staat van beskuldiging kon geplaas het. Sy is egter skuldig bevind aan wanoptrede omdat sy uitsprake by minstens 26 geleenthede vertraag het. Dit volg op ‘n klagte van regterpresident Dunstan Mlambo. Die Regterlike Gedragstribunaal het bevind dat Mngqibisa-Thusi nie vir Mlambo ingelig het sy was nie in staat om die uitsprake tydig te lewer nie. Die kommissie het haar beveel om Mlambo en die regsverteenwoordigers van alle betrokkenes binne 14-dae om verskoning te vra.
# Die MK-party se Jeugliga sê hy is bekommerd en teleurgesteld oor die onlangse optrede wat eenheid en kameraderie in die Progressiewe Koukus ontwrig het. Die koukus verteenwoordig 102 setels in die Nasionale Vergadering, wat MK, die EFF en die ATM insluit. Die liga se woordvoerder, Nkateko Mkhabela, sê dit is onaanvaarbaar en ontmoedigend dat die koukus van binne deur sekere mense ondermyn word wat persoonlike agendas voorop stel bo die gemeenskaplike voordeel:
# Boks: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê hy gaan nie langer die Nasionale Beroepsboks-promotorsvereniging se aansoek teenstaan nie. Die vereniging het ‘n klagte teen die minister ingedien en voer aan niemand is geraadpleeg voordat Boks Suid-Afrika se raad aangestel is nie. Die departement se woordvoerder, Cassiday Rangata-Jacobs, sê McKenzie sal die raad ontbind in die algemene belang van sport:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-263-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-509-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte: Die Engelse rock-groep, Oasis, het sy reünie-toer aangekondig, 15 jaar nadat die broers, Noel en Liam Gallagher uiteen is en die groep ontbind het. Oasis is in 1991 in Manchester gestig en was een van die suksesvolste van hierdie era, met verkope van ongeveer 75-miljoen albums wêreldwyd. Sommige treffer-albums was Definitely Maybe, Be Here Now, en Don’t Believe the Truth. Die toer sal volgende jaar 14 vertonings in die Verenigde Koninkryk insluit, onder meer op Wembley en die Principality-stadion, met kaartjieverkope wat Saterdag open.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….