Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Stad Kaapstad is nou in die pylvak om een van die One Planet City Challenge se wêreldwye wenners te word. Dié stad het die Stad Tshwane en die eThekwini-munisipaliteit uitgeskakel om die nasionale toekenning te buit. Die uitdaging moedig stede wêreldwyd aan om ambisieuse klimaatsteikens te stel in ooreenstemming met die Paryse Verdrag se doelwit om aardverwarming tot 1,5-grade Celsius te beperk. Die jurie het Kaapstad geloof vir sy aandag aan optrede wat ‘n uitwerking het, soos kompakte verstedeliking en die elektrifisering van die vervoersektor.
# Die Producer Responsibility Organisation, Circular Energy en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Spraak, Taal en Gehoor gaan saamspan om uitgewerkte gehoorapparate en knopie-batterye van Suid-Afrika se stortingsterreine te herwin. Houers sal by oudiologie-praktyke, hospitale en by skole vir gehoorgestremde kinders geplaas word om behoorlike herwinning te verseker. Die uitvoerende hoof van Circular Energy, Patricia Schröder, het die belangrikheid van die bestuur van die items benadruk, weens hulle gevaarlike inhoud, insluitend kwik. Verbruikers word aangemoedig om dit by plaaslike oudioloë, Hirsch Home Stores en Woolworths af te gee.
# En die Internasionale Kraanvoëlstigting en die Trust vir Bedreigde Natuurlewe is nou geregistreer in een van slegs ses koolstof-verrekeningsprojekte wêreldwyd. Hul veldtog in die Drakensberg-streek het ten doel om bedreigde voëllewe te beskerm en plaaslike boere te ondersteun. Die projek, wat 90-duisend hektaar dek, gee aandag aan habitatverlies en klimaatsverandering deur volhoubare grondbestuur. Die blou-, wattel- en gryskroonkraanvoëls is in gevaar weens mynbou, infrastruktuurontwikkeling, onbeheerde brande en indringerspesies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….