Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Stad Kaapstad is nou in die pylvak om een van die One Planet City Challenge se wêreldwye wenners te word. Dié stad het die Stad Tshwane en die eThekwini-munisipaliteit uitgeskakel om die nasionale toekenning te buit. Die uitdaging moedig stede wêreldwyd aan om ambisieuse klimaatsteikens te stel in ooreenstemming met die Paryse Verdrag se doelwit om aardverwarming tot 1,5-grade Celsius te beperk. Die jurie het Kaapstad geloof vir sy aandag aan optrede wat ‘n uitwerking het, soos kompakte verstedeliking en die elektrifisering van die vervoersektor.
# ‘n Graad-vyf-leerder van die Laerskool Van Riebeeckstrand het ‘n nuwe rekord opgestel as die jongste swemmer om van Robbeneiland na Bloubergstrand te swem. Die tienjarige Karli Fourie het die afstand van 7,4-kilometer van Robbeneiland saam met die veteraanswemmer Howard Warrington in drie-uur-vier-minute afgelê. Sy het die swemtog aangepak om 50-duisend-rand in te samel vir die welsynsorganisasie Home From Home, wat pleegkinders in die Wes-Kaap ondersteun.
# Die Oos-Kaapse LUR vir Gesondheid, Ntandokazi Capa, sê die eerste kankerpasiënte sal Donderdag in die Livingstone Hospitaal in Nelson Mandelabaai met ‘n nuwe Linac-versnellermasjien van 60-miljoen-rand behandel word. Die masjien vervaardig hoë-energiedeeltjies of golwe in die vorm van strale wat kankerselle vernietig of beskadig. Capa se woordvoerder, Mkhululi Ndamase, sê die nuwe masjien sal ʼn groot bydrae lewer om kankerpasiënte in die westelike deel van die provinsie te behandel:
# Professor Pfunzo Sidogi van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het die gesogte Arnold Rubin Uitmuntende Publikasie-toekenning in Chicago verower. Dit is vir sy boek Mihloti Y Ntsako: Journeys with the Bongi Dhlomo Collection. Sidogi, die hoof van die Departement van Skone Kunste en Ateljeekuns, sê die toekenning is ‘n bevestiging van sy navorsing wat fokus op die skeppende nalatenskap van swart kunstenaars van die 20ste eeu. Hy sê dit is ‘n bewys dat die verhale waaroor Afrika-navorsers skryf, belangrik is.
# En ten slotte: Die lughawe van Istanboel in Turkye het die wêreld se beste netwerk van vlugte volgens nuwe data van die lugvaartontledersmaatskappy, Cirium. Die lughawe bedryf 309 ononderbroke vlugte na bestemmings wêreldwyd, die meeste met die Turkse Lugdiens, wat meer lande as enige ander lugdiens bedien. Dit is ook die sewende besigste lughawe in die wêreld met sowat 90-miljoen passasiers per jaar. Tweede op die lys is die lughawe in Frankfurt, Duitsland, met die Charles de Gaulle-lughawe in Parys derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….