Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa sê middelmatige optrede deur munisipale amptenare is nie meer aanvaarbaar nie. Hy sê hulle moet die leiding neem en top-gehalte diens lewer tydens die land se energie-oordrag.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die storm van korrupsiebewerings wat oor die kop van die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane losgebars het. Politieke partye eis optrede teen haar nadat dit aan die lig gekom het dat sy meer as 500-duisend-rand by die VBS-bank geleen het.
En tweedens word berig oor die 21-jarige Cuan Karelse wat in verband met die moord op die sakevrou van Standerton, Reneé Lea in die Pretoria-landdroshof verskyn het. Lea se liggaam is Saterdag in haar motor in Moreletapark gevind.
# The Star en Pretoria News:
Skryf eerstens ook oor die politieke partye wat ‘n ondersoek teen Simelane eis.
En tweedens word berig die DA heroorweeg sy aksie teen NGV weens sy betrokkenheid by die regering van nasionale eenheid.
# Sowetan:
Berig oor die rykdom van die sogenaamde tenderpreneur, Hamilton Ndlovu. Die staat hoop om miljoiene te verhaal deur die verkoop van sy drie Porsches en ander luukse voertuie.
# En The Citizen:
Skryf daar is gemengde gevoelens oor die sogenaamde tweepot-pensioenstelsel. Ekonome glo dit sal die ekonomie ‘n hupstoot gee, maar sê dit mag plaaslike kapitaalmarkte seermaak.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig veldbrande rondom Bloemfontein en Ficksburg wat reeds sedert die naweek duisende hektaar weiveld vernietig het, woed steeds voort. Die Weerdiens het gewaarsku oor verdere sterk wind oor die Vrystaat en Noord-Kaap.
En tweedens skryf die koerant oor die 14-jarige Marichelle Crous van die Hoër Meisieskool Oranje se breakdancing-passies op die hokkieveld.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die moord op die slagter van Murraysburg, die 79-jarige Pieter Retief. Hy en sy vrou Christie is deur rowers aangerand en hul huis en slaghuis is aan die brand gesteek. Die liggaam van een van die aanvallers is in die puin gevind en die polisie soek na nog drie.
En tweedens skryf die koerant Eskom verwag ‘n maklike somer waartydens niks meer as Fase 2-beurtkrag nodig sal wees nie.
# En Cape Times:
Skryf ook oor Eskom wat ‘n maklike somer verwag.
En berig oor ‘n ondersoek teen die Suid-Afrikaanse konsul-generaal in Dubai, Andrew Lebona.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar word pogings aangewend om tydelike strukture op te rig om kragvoorsiening aan Sardiniëbaai te herstel nadat vier transmissietorings verlede week deur stormwind beskadig is.
En tweedens skryf die koerant ’n prokureur is aangestel om as bemiddelaar op te tree tussen ’n groep vroue en ’n insleepvoertuigmaatskappy wat volgens hulle hul voertuie skut vir geringe kwessies.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die bestuurshoof van Ithala-bank, Thulani Vilakazi sê klante moet nie bekommerd wees nie, hul geld is veilig al is die bank se bedryfslisensie opgeskort.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig verskeie optogte is gister regoor Namibië gehou ter ondersteuning van ’n basiese inkomstetoelaag van 500-rand per persoon, per maand.
Dan skryf die koerant die landdros in die saak teen Jandré Dippenaar sê sy vonnis van 15 jaar het ten doel om die samelewing tevrede te stel dat hy nie net oor die vingers getik is nie.
En laastens word berig honderde het die 34ste Heldedag-vieringe gister in Omuthiya bygewoon.