Nuus 06:00
BULLETIN 27 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom vra gesamentlike optrede teen munisipale skuld en energiediefstal
# Die African Transformation Movement vra vir ‘n ondersoek na die manipulasie van die rand
# En die ondersoek na die herroepte konsul-generaal in Dubai duur voort
# Eskom vra ‘n samewerkende benadering om die toenemende munisipale skuld en wydverspreide energiediefstal te hanteer. Die kragnutsmaatskappy moedig die regering, gemeenskappe en munisipaliteite aan om saam te werk om die probleme op te los en finansiële bestendigheid te verseker. Eskom se voorsitter Mteto Nyati het op ‘n nuuskonferensie gesê die kwessies is groot uitdagings vir die verskaffer, met onbetaalde munisipale rekenings en onwettige verbindings wat koste opstoot en dienslewering strem:
# Die African Transformation Movement versoek die Parlement om ‘n ondersoek te begin na beweerde manipulasie van die rand deur nasionale en internasionale banke. Na die onlangse verwerping van die saak oor die buitelandse valuta-kartel van die Mededingingskommissie teen die meeste banke wat geïmpliseer word, vra die party vir ‘n deeglike ondersoek na die bewerings, die impak op die ekonomie, en die doeltreffendheid van reguleringstoesig. Die president van ATM, Vuyo Zungula, sê die ondersoek is noodsaaklik om die publiek se vertroue in die Suid-Afrikaanse finansiële stelsel te herstel.
# Die DA in Johannesburg is ontstoke oor die stad se toekenning van ‘n tender van 200-mijoen-rand aan ‘n maatskappy wat tereg staan dat hulle City Power met 94-miljoen-rand bedrieg het. Die maatskappy moet die ontploffingsterrein in Lilian Ngoyistraat herstel. Die party eis deursigtigheid, aanspreeklikheid en ‘n swartlys van maatskappye. DA-woordvoerder Belinda Kayser-Echeozonjoku versoek ‘n volledige ondersoek om wanbestuur aan te spreek:
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê die ondersoek na die konsul-generaal in Dubai, Andrew Lebona, duur voort. Hy is teruggeroep ná bewerings van wangedrag. Lebona word daarvan beskuldig dat hy inbrake by sy kantoor gereël het as deel van ‘n uitgebreide skema om visums te verkoop aan burgers van die Verenigde Arabiese Emirate. Die departement sê hy het opgetree op grond van inligting van fluitjieblasers oor beweerde sekerheidsoortredings en wangedrag. Lebona sal voor ‘n ondersoekspan in Suid-Afrika sal verskyn.
# Krieket: Net trots is op die spel vir die Proteas in die laaste T20 teen die Windies in Tarouba. Die gashere het reeds die reeks beklink nadat hulle die eerste twee kragmetings gewen het. Hulle het Suid-Afrika in die eerste wedstryd met sewe paaltjies verslaan en met 30 lopies in die tweede. Die Proteas keer nou terug na Suid-Afrika om voor te berei vir ‘n propvol somer met reekse teen Afghanistan, Ierland en Sri Lanka, voor hulle Pakistan aandurf in drie T20s, drie eendagwedstryde en twee toetse.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-2-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-514-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-50-sent per vat.
# En ten slotte, die Universiteit van die Wes-Kaap het hulde gebring aan sy voormalige rektor en visekanselier, professor Brian O’Connell, wat op 77-jarige ouderdom oorlede is. Hy het van 2001 tot 2014 as rektor gedien. Die talle eredoktorsgrade wat hy ontvang het, sluit in die titel Bevelvoerder van die Orde van Leopold die Tweede, van die Belgiese regering vir sy bydrae tot wêreldwye tersiêre instellings. Die universiteit se woordvoerder, Gasant Abarder, sê O’Connell se nalatenskap is een van passie, intellektuele deursigtigheid en leierskapsbetrokkenheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….