Nuus 09:00
BULLETIN 24 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA beskuldig die Gesondheidsminister hy verwaarloos gesondheidsorgkwessies vir ideologiese doelwitte
# Gaza se eerste tipe 2-polio geval in 25 jaar laat ‘n baba verlam
# En, sokker: Gunners pak ‘n gevaarlike Aston Villa, en Man U is in ‘n opdraende stryd teen Brighton
# Die DA beskuldig die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, dat hy voorrang gee aan die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering ten koste van dringende kwessies oor gesondheidsorg. Die party beskuldig Motsoaledi dat hy op sy ideologiese doelwitte fokus pleks van kritiese probleme aanspreek, soos tekorte aan mediese personeel, verouderde infrastruktuur en korrupsie in die gesondheidsorgstelsel. Die woordvoerder van die DA, Michele Clarke, voer aan sy optrede bedreig sowel die stabiliteit van die regering as die land se ekonomiese herstel:
# Die Landdroshof in Mankweng in Limpopo het ‘n dubbele moordsaak teen ‘n 60-jarige boer en twee werknemers van 19- en 45-jaar tot Vrydag uitgestel vir ‘n formele borgaansoek. ‘n Polisiewoordvoerder, Malesela Ledwaba, sê Zachariah Olivier en sy twee werknemers, Adriaan de Wet en William Musoro, is in hegtenis geneem na die ontdekking Dinsdag van twee vroue se ontbinde liggame in ‘n varkhok op ‘n plaas in Sebayeng, buite Mankweng. Lewdwaba sê die arrestasies volg na ‘n deeglike ondersoek:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie doen ‘n beroep op die dringende inenting van alle babas in Gaza na ‘n tien-maande-oue baba verlam is deur die tipe 2-polio virus. Volgens die WGO is dit die eerste geval in die gebied in 25 jaar. Die Verenigde Nasies se agentskappe het hulle stemme by die oproep gevoeg, en vra Israel en Hamas om in te stem tot ‘n skietstaking van sewe dae in die oorlog om inentingsveldtogte in die gebied toe te laat.
# Sokker: Arsenal se Premierliga-titeldrome word vandag vroeg getoets met ‘n moontlike piesangskil-wegwedstryd teen Aston Villa, terwyl Manchester United se verdediging deeglik getoets sal word teen Brighton. Arsenal se twee loesings verlede seisoen teen Villa het hulle kanse gekelder op ‘n eerste ligatitel in 20 jaar. Na ‘n chaotiese somer by Stamford Bridge en ‘n aanvangs-verlooruitslag teen Manchester City, wil Chelsea bestendigheid herstel en die bestuurder, Enzo Maresca, sy eerste Premierliga-oorwinning by Wolves gee. City speel vandag tuis teen Ipswich en Spurs kom te staan teen Everton.
# En, die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, het die humanitêre mediese verligtingshulp-oefening tussen die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en die Chinese Peoples Liberation Army verwelkom. Die departement se woordvoerder, Siphiwe Dlamini, sê die Chinese vlootskip, Daisho Dao, bekend as die Vredes-ark, is tot Woensdag besig met ‘n humanitêre en mediese oefening saam met die SANW in Kaapstad. Hy sê die oefening fokus op die verlening van gratis mediese dienste aan die plaaslike bevolking:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….