Nuus 08:00
BULLETIN 24 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# CETA doen verslag voor die portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys korrupsie-bewerings
# ‘n Busongeluk in Nepal eis die lewens van 27 pelgrims
# En, krieket: Die Windies klop die Proteas met sewe paaltjies in hulle eerste T20
# Die Konstruksie Onderwys- en Opleidingsowerheid het sy verwerping herhaal van bewerings van korrupsie en wanadministrasie. CETA word beskuldig van verkwistende besteding en onbehoorlike finansiële optrede. Dit sluit ‘n wêreldreis vir raadslede in. Die uitvoerende hoof Malusi Shezi het aan die parlementêre portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys gesê die berigte is deel van ‘n agenda teen die raad:
Die vakbond NEHAWU het intussen verklaar sy verhouding met die CETA-raad bestaan nie meer nie. Dit volg na Shezi se aansprake dat berigte oor wanbestuur en korrupsie deel is van ‘n agenda teen die raad. Nehawu se takvoorsitter Olebogeng Tsitsi het aan die parlementêre portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys gesê die vakbond eis dringende ingryping om behoorlike bestuur by CETA te herstel:
# Sewe-en-twintig mense is in Nepal dood en 16 beseer na ‘n bus met Indiese toeriste gister in ‘n vol rivier beland het. Die bus was op pad na die hoofstad Kathmandu van die toeristestad Pokhara af toe die ongeluk in die Tanahun-distrik gebeur het. Na wat berig word is die busroete baie gewild onder Indiese toeriste en pelgrims. Die Indiese ambassade in Kathmandu het bevestig hy beplan om die oorledenes en ook soveel as moontlik van die beseerdes te repatrieer.
# Krieket: Die Wes Indiese Eilande se kolwers het gisternag oorheers in die eerste van drie T20-wedstryde teen Suid-Afrika in die Brian Lara-stadion in Tarouba, Trinidad. Die Proteas het 174 vir sewe behaal, maar die gashere het met 176 vir drie geantwoord. Nicholas Pooran het ‘n onoorwonne 65 van slegs 26 balle geslaan. Die Windies se oorwinning het gekom toe daar nog 13 balle oor was. Die tweede kragmeting word môre gespeel. Dit volg na die toetsreeks wat Suid-Afrika met een-nul gewen het nadat reën die eerste toets onbeslis laat eindig het.
# En, Eskom het 150 dae sonder beurtkrag bereik, wat ‘n eerste is sedert 2020. Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Jane Graham, skryf die mylpaal toe aan ‘n verbeterde prestasie by sekere kragstasies, veral dié wat deur vroue bestuur word. Terwyl sy erkenning gee aan die aansienlike vordering, het sy die parlement ingelig dat die risiko van beurtkrag voortduur, al word die geïntegreerde energie- en hulpbronplanne voortgesit:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….