Nuus 06:00
BULLETIN 23 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kabinet herbevestig sy verbintenis tot kernenergie
# Die VN sê massa-ontruimings het 90-persent van die mense in Gaza verplaas
# En rugby: Die Curriebeker-seisoen is amper verby
# Die Kabinet herbevestig sy verbintenis tot kernenergie as ‘n noodsaaklike onderdeel van Suid-Afrika se energiemengsel. ‘n Bykomende twee-duisend-500 megawatt sal teen die einde van aanstaande maand by die nasionale netwerk gevoeg word met die doel om energiesekerheid te verbeter en kragvoorsiening te stabiliseer. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshaveni, sê dié stap is deel van breër pogings om energiebronne te diversifiseer, energie-uitdagings aan te spreek en ekonomiese groei te versterk:
# Die leier van die MK-party Jacob Zuma het die belangrikheid herbevestig van samehorigheid onder swartmense in die stryd teen rasse-ongelykheid. Zuma het tydens ‘n nuuskonferensie die historiese en voortslepende stryd van swartmense uitgelig en beklemtoon eenheid is noodsaaklik om sistemiese onderdrukking te oorkom. Hy sê die MK-party is verbind tot swart bevryding en pleit vir kollektiewe optrede teen rasse-teenstrydighede en -ongeregtighede:
# Ace Magashule se voormalige assistent, Moroadi Cholota, het ‘n dringende aansoek ingedien by die Hooggeregshof in Bloemfontein vir die onttrekking van bedrog- en korrupsie-aanklagte wat verband hou met die multimiljoen-rand asbessaak. Cholota, wat geweier het om vir die staat te getuig, is deur Amerika uitgelewer en vrygelaat op borgtog. Sy voer aan haar uitlewering en inhegtenisneming is ongrondwetlik, en beweer dit is haar straf omdat sy nie met die polisie saamgewerk het nie.
# Twee buitelandse burgers is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op dwelms ter waarde van 80-miljoen-rand tydens ‘n klopjag by ‘n geheime dwelmlaboratorium in Douglasdale, Johannesburg. Daar is na bewering Mandrax-tablette vervaardig. Die Gautengse polisiekommissaris, Tommy Mthombeni sê dwelmvervaardigingstoerusting en verskeie hoëkaliber-vuurwapens is gevind. Hy sê hulle vorder met optrede teen ‘n transnasionale misdaadsindikaat:
# Die Verenigde Nasies se Kantoor vir die Koördinering van Humanitêre Sake sê die opeenvolgende massa-ontruimingsbevele wat deur Israeliese magte uitgereik is, het sedert Oktober verlede jaar 90-persent van Gaza se inwoners verplaas. Hierdie maand alleen is 12 bevele uitgereik, wat nagenoeg 250-duisend mense gedwing het om te verskuif. Die VN sê die pad vorentoe is duidelik en dringend – beskerm burgerlikes, laat die gyselaars vry, laat humanitêre hulp toe, en kom ooreen oor ‘n wapenstilstand.
# Rugby: Slegs drie rondes bly oor in die Curriebeker voor die halfeindstryde. Die Bulle is tans boaan die punteleer gevolg deur die Leeus en die Cheetahs. Die Haaie is in die vierde plek gevolg deur die Pumas, Westelike Provinsie, Griekwas en die Griffons. Die Bulle trakteer vanaand die Griekwas in Pretoria. Môre speel Westelike Provinsie teen die Haaie in Kaapstad en die Cheetahs en die Leeus durf mekaar in Bloemfontein aan. Die Griffons en die Pumas speel Sondag in Welkom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-409-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-486-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….