Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die presidensie steur hom nie aan die boikot van sy tweede gesondheidsooreenkoms deur georganiseerde sake- en gesondheidswerkers nie. Die regering is van plan om voort te gaan met Nasionale Gesondheidsversekering.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf oor die stormagtige week wat die EFF beleef het. Die koerant berig Julius Malema is op die oorlogspad.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die leier van die MK-party, oudpresident Jacob Zuma sê swartmense word steeds in Suid-Afrika onderdruk en daarom wil hy hê al die swart partye in die land moet by ‘n vereniging aansluit. Zuma het ook aangekondig dat die EFF se voormalige adjunkpresident, Floyd Shivambu nou MK se nasionale organiseerder is.
En tweedens skryf die koerant advokaat Gerrie Nel wil die klagtes van nóg ‘n ouerpaar voeg by die bestaande tien aanklagte teen die voormalige vroedvrou, Yolande Maritz Fouchee.
# The Star en Pretoria News:
Skryf Shivambu het gesê hy is nou in ‘n posisie waar hy nooit die rewolusie sal verraai nie.
En tweedens word berig die IVP het die nasionale voorsitter van sy Jeugbrigade en parlementslid, Sanele Zondo, op spesiale verlof geplaas oor geslagsgeweldaantygings.
# Sowetan:
Berig klein en groot sakeondernemings landswyd loop deur onder sindikate wat hulle afdreig vir beskermingsgeld. ‘n Oos-Kaapse dokter moet selfs betaal om sy praktyk oop te hou.
# En The Citizen:
Skryf Airlink beskuldig die Suid-Afrikaanse Lugdiens dat hy die lugdiens se sensitiewe verkope- en bemarkingsbegroting op onregmatige wyse in die hande gekry het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens oor die sogenaamde koop van leerders deur skole. Dit is uit verskillende oorde as oneties bestempel. Skole moet eerder die leerders in hul eie gemeenskappe toerus.
En tweedens skryf die koerant die voorsitter van die Vrystaatse Rugbyskeidsregtervereniging, Dewald Smit sê ouers en skole moet ook ‘n rol speel om vuilspel te bekamp.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Zuma.
En tweedens is daar nuus oor vier tieners wat ‘n Uber-taxi met ‘n vuurwapen probeer kaap het. Hulle skorsing is verby en hulle is tans terug by die skool.
# En Cape Times:
Skryf Shivambu sê hy het nie by die MK-party aangesluit om enigiemand se ego te streel nie.
En berig oor Eskom se bekendstelling van herlaaistasies vir elektriese voertuie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ANC se koalisievennote in Nelson Mandelabaai het die groen lig gegee dat die burgemeester, Gary van Niekerk vervang word.
En tweedens skryf die koerant hoëgety-golwe beskadig die infrastruktuur en bedreig die veiligheid van inwoners en motoriste van New Brighton tot by die Swartkopsriviermond.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die regering van KwaZulu-Natal het ‘n ernstige waarskuwing aan sogenaamde konstruksiemafias gerig dat afdreiging nie geduld sal word nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese Vereniging van Mediese Fondse het ’n kennisgewing aan gesondheidsdiensverskaffers in die privaat gesondheidsbedryf uitgereik dat mediese fondse regstreekse eise namens pasiënte gaan weier, as hulle nie die ICD-10-koderingstelsel gebruik nie.
En tweedens skryf die koerant Savanna Beef Processors Limited se moderne aanleg, tans in aanbou, het ten doel om waarde toe te voeg tot die beesvleiswaardeketting en ekonomie van landelike gebiede.