Nuus 06:00
BULLETIN 7 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC kondig nuwe maatreëls aan om grensbestuur te verbeter en handel te bevorder
# Die Republikeine sê Kamala Harris se verkiesingsvennoot is vêr-links
# En die Suid-Afrikaanse veteraan-akteur Connie Chiume is oorlede
# Die nasionale uitvoerende komitee van die ANC het planne onthul vir twee nuwe eenstop-grensposte om handel te vergemaklik en grenssekerheid te verbeter. Die maatreëls wil die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied steun deur die beweging van goedere te vergemaklik en onwettige invoere te onderskep. Op ‘n nuuskonferensie op die laaste dag van die lekgotla in Boksburg het die lid van die NUK, Njabulo Nzuza, bekend gemaak agt sleutelbeleidsaanbevelings is ingestel om immigrasieprosesse te verbeter en toerisme te bevorder:
# Die administrateur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Freeman Nomvalo, vra vir verhoogde betrokkenheid van belanghebbers en modernisering van die stelsel om werksaamhede te verbeter. Nomvalo sê verbeterde kommunikasie en samewerking met universiteite, studente en ander vennote is noodsaaklik om administratiewe uitdagings op te los en die finansiële hulpproses vaartbelyn te maak. Hy sê die skema stel registers op vir onreëlmatige uitgawes:
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, waarsku oor vuurwapens naby kinders en wys op moontlike angstigheid by leerders en onderwysers. Vier arrestasies is gemaak na die intimidasie van personeel en leerders by die Laerskool Matsediso. Makaneta benadruk die belangrikheid van bemiddeling om die familietwis wat na die skool oorgespoel het, vreedsaam by te lê en die kinders se welstand verseker:
# Amerikaanse Republikeine beskryf die Demokratiese kandidaat, Kamala Harris, se medekandidaat as ‘n ver-linkse karakter. Die visepresident het gister bekendgemaak die goewerneur van Minnesota, Tim Walz, is haar keuse as haar adjunk indien sy Donald Trump in November verslaan. Die 60-jarige Walz was ‘n onderwyser en voormalige lid van die Weermag. Die goewerneur van Florida, Ron DeSantis beskryf Walz as die mees linksgesinde kandidaat in die Amerikaanse geskiedenis terwyl die Republikeinse sweep, Tom Emmer, sê hy is ‘n pak klere sonder ‘n lyf wat hom beywer het om Minnesota in Harris se tuisstaat Kalifornië te verander.
# Olimpiese Spele: Miranda Coetzee het ‘n persoonlike beste tyd van 50,66-sekondes gehardloop om tweede in die heruitdun te eindig om vir die 400-meter-halfeindronde vir vroue in Parys te kwalifiseer. Daar was teleurstelling in die mans 400-meter-halfeindronde, aangesien beide Lythe Pillay en Zakhiti Nene nie kon deurdring na die finaal nie. In kanovaart het Hamish Lovemore en Andrew Birkett tot die mans se dubbel-kano-resies oor 500-meter se halfeindronde gevorder. In die vroue se dubbel-kano-resies oor 500-meter, het Tiffany Koch en Esti Olivier die kwarteindronde gehaal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-40-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-386-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-9-sent per vat.
# En ons sluit af met hartseer nuus: Die bekroonde Suid-Afrikaanse akteur Connie Chiume is op 72 oorlede. Sy is gister in die Garden City-hospitaal in Johannesburg dood. Chiume, wie se loopbaan oor 45 jaar strek, was bekend vir haar rolle in verskeie gewilde plaaslike televisieprogramme, insluitend Rhythm City, Zone 14 en Gamora. In 2018 was sy in die Marvel-rolprent Black Panther in Hollywood. Chiume het ook verskeie toekennings vir lewenslange prestasies ontvang, insluitend eerbewyse by die Hollywood and African Prestigious Awards en die Suid-Afrikaanse Rolprent- en Televisietoekennings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….