Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het ‘n ondersoek van stapel gestuur na die wettigheid van betalings aan duisende individue wat versuim het om bewys te lewer dat hulle studente by Tegniese en Beroepsopleidingskolleges is.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die gemeenskap van Heidelberg het die hof se besluit om borgtog aan Jaen Lee Pyne te weier, verwelkom. Hy word aangekla van die moord op Etienne du Preez en poging tot moord op Flip Minnaar.
Tweedens skryf die koerant die Bok-afrigter, Rassie Erasmus sê hy is bewus dat die Australiërs probeer druk toepas op die skeidregters in Saterdag se toets teen die Bokke. Erasmus sê hy steur hom nie hieraan nie.
En laastens word berig die Amerikaanse Demokratiese presidentskandidaat, Kamala Harris het die goewerneur van Minnesota, Tim Walz as haar verkiesingsvennoot gekies. Hy is ‘n oud-onderwyser en militêre veteraan.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die omstrede pastoor Mboro en nog vier ander het in die hof verskyn in verband met die vemeende aanval by die Matshidiso Primary School in Ekurhuleni.
En berig oor die afsterwe van die bekroonde Suid-Afrikaanse akteur Connie Chiume.
# Sowetan:
Berig jeugdiges het toegeslaan op pastoor Mboro se tentkerk en dit tot op die grond afgebrand.
# En The Citizen:
Skryf ook oor Mboro se kerk en berig die polisie sê hulle sal nie huiwer om te skiet om misdaad te bekamp nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die meeste studente wat die Vrystaatse regering na lande soos Rusland, China en Indië gestuur het vir mediese opleiding, kan nie die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe se eksamen slaag nie.
Dan skryf die koerant Sandra Fourie en Dawie Louw van Winnie Mandela (Brandfort) het met ‘n skok uitgevind dat hulle huwelik 15 jaar gelede nooit deur die kerk geregistreer is nie.
En laastens is daar ook nuus oor die Wallabies se poging om druk uit te oefen op Saterdag se skeidregter.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die polisie se optrede in Khayelitsha waartydens agt vermeende transitorowers doodgeskiet en nog vyf in hegtenis geneem is. Die polisie sê hulle het toepaslike geweld gebruik tydens die optrede.
En tweedens skryf die koerant die wenner van 100-miljoen-rand se Lotto-kaartjie word in Gauteng gesoek.
# En Cape Times:
Skryf die polisie is uit talle oorde geloof vir hul optrede teen die vermeende transitorowers.
En berig die studente wat na bewering swart studente as slawe opgeveil het, ry aan die pen.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die gemeente van die Assemblies of God-kerk in New Brighton is erg geskok nadat vier gewapende mans hulle tydens ‘n weeklikse diens beroof het.
En tweedens skryf die koerant ’n ma van Gqeberha soek na antwoorde nadat haar negejarige dogter na bewering aan ‘n oordosis dwelmmiddels dood is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het die belastingbetalers van KwaZulu-Natal geloof vir hul verset teen swak dienslewering.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n 15-jarige meisie het twee maande gelede geboorte geskenk aan ’n babaseuntjie nadat haar stiefpa, ’n 40-jarige selfaangestelde pastoor, haar glo herhaaldelik verkrag het.
En tweedens skryf die koerant die Khomasstreek het verskeie van sy doelwitte vir die ontwikkeling van sy informele nedersettings nie gehaal nie.