Nuus 06:00
BULLETIN 6 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC waarsku ekonomiese ongelykheid bedreig bestendigheid
# Die Johannesburgse burgemeester swig voor druk om uit te tree
# En Olimpiese Spele: Prudence Sekgodiso eindig laaste in die 800-meter-finaal
# Die ANC sê die groeiende ekonomiese ongelykheid en verslegtende inkomsteverspreiding is groot bronne van kommer wat tot maatskaplike onstabiliteit kan lei. Waarnemende woordvoerder, Zuko Godlimpi, het op die tweede dag van die nasionale uitvoerende komitee se lekgotla in Boksburg aan die media gesê die ekonomie moet dringend herleef om die geloofwaardigheid van die demokratiese orde te beskerm. Volgens Godlimpi dui die lae persentasie kiesersdeelname tydens die verkiesing op ‘n demokratiese krisis:
# Die Departement van Water en Sanitasie sal munisipaliteite steun om water- en sanitasiedienste te verbeter. Minister Pemmy Majodina sê die departement sal al die provinsies besoek om die vordering te hersien met bestaande verbeteringsplanne en steun te gee vir die ontwikkeling van nuwes. Sy beklemtoon die departement sal steeds toelaes toeken om die betroubaarheid van infrastruktuur en kapasiteit te verbeter:
# Die ANC het bevestig die burgemeester van Johannesburg Kabelo Gwamanda sal uittree ondanks weerstand deur sy party en die koalisievennote. Die besluit volg op eise deur politieke partye en organisasies, waaronder die Johannesburg Crisis Alliance, wat wys op beleggersvertroue wat afneem. Die ANC se streeksekretaris vir Groter Johannesburg Sasabona Manganye het in die wandelgange tydens die party se lekgotla gesê ‘n mosie van wantroue is nie nodig nie en die party beplan om sy eie kandidaat in die pos aan te stel. Hy het nie bevestig presies wanneer Gwamanda gaan bedank nie.
# Die Mpumalanga Departement van Gemeenskapsveiligheid en Sekerheidskakeling sê die ondersoek na verlede week se dodelike ongeluk tussen ‘n trein en ‘n bus wat leerders vervoer het, sal ongeveer 30 dae neem om te voltooi. Ses leerders is dood en 19 ander beseer. Die Spoorweg-veiligheidsreguleerder sê ‘n voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die busbestuurder padtekens by die spooroorgang verontagsaam het. Die departement se woordvoerder, Moeti Mmusi, sê daar kan verdere bewerings wees:
# Verskeie lande waarsku hulle burgers om versigtig te wees indien hulle na die Verenigde Koninkryk reis na die onrus die naweek wat hotelle met asielsoekers geteiken het. Lande soos Nigerië, Maleisië en Indonesië, met ‘n meerderheid Moslem-inwoners, het reiswaarskuwings uitgereik nadat moskees deurgeloop het. Sky News berig die Britse eerste minister, Keir Starmer, het spesiale beamptes saamgestel om die onluste te beheer, wat begin het nadat drie jong meisies vroeër vandeesmaand vermoor is tydens ‘n mesaanval in Southport, Engeland.
# Olimpiese Spele: Suid-Afrika se middelafstand-atleet, Prudence Sekgodiso het agtste geëindig in die 800-meter-finaal vir vroue in Parys. Die 22-jarige, wat aan haar eerste Spele deelgeneem het, het vir die grootste deel van die wedloop by die voorlopers gebly, maar het in die laaste 50 meter teruggesak. Brittanje se Keely Hodgkinson het die naelloop gewen. Wayde van Niekerk en Shaun Maswanganyi het intussen derde in hul onderskeie uitdunne geëindig om outomaties vir die mans se 200 meter-halfeind te kwalifiseer. Zakithi Nene en Lythe Pillay het albei ook vir die 400 meter-halfeind vir mans gekwalifiseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 54-duisend-510-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-408-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….