Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die rand het gister die meeste in byna twee maande verswak weens vrese dat die Amerikaanse ekonomie in ‘n resessie gaan verval. Die Suid-Afrikaanse geldeenheid het teen 18-rand-68-sent teenoor die dollar verhandel.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die adjunkminister van Water en Sanitasie, David Mahlobo sê hoewel Suid-Afrika altyd water sal hê, moet die bestuur daarvan ingrypend verander.
Dan skryf die koerant oor ‘n geskiedkundige bloedoortapping van ‘n Boston-terriërkruising om die lewe van Roma, die dragtige ietermagô, te red.
En laastens sê die Suid-Afrikaanse naelloper, Akani Simbine, sy Olimpiese droom vir 2028 is steeds lewendig.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oor ‘n taxibaas wat in Soweto in ‘n sluipmoordaanval doodgeskiet is.
En berig die ANC se alliansievennote is ongelukkig met die party se doen en late in die regering van nasionale eenheid.
# Sowetan:
Berig die omstrede pastoor Paseka “Mboro” Motsoeneng het gewapen met kapmesse by die Matsediso Primary School in Ekurhuleni opgedaag en na bewering gedreig om die onderwysers aan te val. Motsoeneng sê hy het sy seun gaan soek wat glo deur die onderwysers aangerand is.
# En The Citizen:
Skryf daar is skynbaar ongelukkigheid in die MK-party oor oudpresident Jacob Zuma se outokratiese optrede om mense na willekeur aan te stel en af te dank.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die minister in die Presidensie belas met Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa kon gister nie haar trane bedwing met ‘n besoek aan ‘n ongelukstoneel in Postmasburg in die Noord-Kaap waar vier mense dood is nie.
Tweedens skryf die koerant die eggenoot van die omstrede diamanthandelaar Louis Liebenberg, Dezi kon daarin slaag om van die bates waarop beslag gelê is terug te kry. Sy het in die hof bewys dis haar eiendom.
Laastens is daar ook ‘n berig oor Akani Simbine se drome.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met Akani Simbine se drome vir 2028 en berig oor ander Suid-Afrikaners wat moontlik nog medaljes kan wen op die atletiekbaan.
En tweedens skryf die koerant ook oor Dezi Liebenberg se bates.
# En Cape Times:
Skryf die ANC is nie bekommerd oor sy alliansievennote se teenstand teen die regering van nasionale eenheid nie.
En berig die Kaapstadse konstruksiemafia kry die wind van voor.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig roetine DNS-toetse op ‘n man wat vir koperdiefstal in hegtenis geneem is, het aan die lig gebring dat hy ‘n reeksverkragter is, wat met vyf onopgeloste sake tussen 2017 en 2021 verbind word.
En die koerant skryf tweedens ’n 54-jarige vrou is in hegtenis geneem omdat sy glo batterysuur in ’n Nelson Mandelabaai-matriekleerder se gesig gegooi het. Die tiener se pa en hul klein hondjie is ook in die proses beseer.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Berig ‘n onwettige skool vir outistiese leerders is onthul nadat ‘n doofstom leerder deur ‘n onderwyser aangerand is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig weens ’n gebrek aan voldoende monitering en evaluering van die hervestigingsproses, gebeur dit dat die regering ’n plaas koop wat vir vyf jaar sonder enige inwoners braak lê, alvorens dit aan ’n begunstigde toegeken word.
En die koerant skryf tweedens ’n lid van Swapo se sentrale komitee het na bewering ’n vrou bedrieg deur ’n erf wat glo in iemand anders se naam geregistreer is, aan haar te verkoop.