Nuus 06:00
BULLETIN 5 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê hulle het geweet van die risiko’s en geleenthede met die vorming van die regering van nasionale eenheid
# Die Geslagsgelykheidskommissie vra opnuut vir gelyke vergoeding
# En Olimpiese Spele: Akani Simbine loop ‘n medalje in die 100-meter-finaal mis
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê hulle het nie maklik besluit om ‘n regering van nasionale eenheid te vorm nie, aangesien hulle ten volle bewus was van die risiko’s en geleenthede wat daarmee gepaard gaan. Hy het gister by die opening van die driedaagse ANC Nasionale Uitvoerende Komitee Lekgotla in Boksburg ’n politieke oorsig gegee. Ramaphosa sê Suid-Afrikaners wil hê die regering van nasionale eenheid moet saamwerk om hul belange te bevorder:
# Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het ‘n beroep herhaal vir gelyke vergoeding vir die geslagte in Suid-Afrika. Die Wêreld Ekonomiese Forum se Global Gender Gap Report wys op Suid-Afrika se aansienlike inkomste-ongelykheid, met vroue wat steeds 23- tot 35-persent minder verdien as mans in dieselfde rolle. Die kommissaris Prabashni Subrayan-Naidoo sê om die kwessie aan te spreek vereis die bevordering van gelykheid met geleenthede, deursigtigheid, samewerking en bemagtiging. Sy sê hoë werkloosheid vererger die ongelykheid.
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se spesiale taakmag het 90 ongedokumenteerde Ethiopiese burgers gered wat in aanhouding aangetref is in Sunnydale Ridge, Johannesburg. Daar is op hulle afgekom terwyl die polisie ‘n ontvoering vir omkoopgeld ondersoek het. Onder dié wat gered is, is die ontvoerde slagoffer van Benoni. Die woordvoerder van die nasionale gesamentlike taakspan Athlenda Mathe sê die Valke ondersoek die saak:
# Die regering van Mpumalanga sal die koste dek van die begrafnis van ses leerders wat dood is in ‘n botsing tussen ‘n bus wat leerders vervoer het en ‘n goederetrein by Mafube in Middelburg. Die ongeluk het gebeur by ‘n spooroorgang op die R104. ‘n Massaroudiens word Woensdag gehou en die begrafnis Saterdag. Intussen het die provinsiale Departement van Gesondheid bevestig tien van die kinders wat in die hospitaal opgeneem is, is ontslaan, terwyl nege nog in ‘n bedenklike toestand is.
# Die Bangladesj-regering het ‘n onbepaalde, landwye aandklokreël ingestel te midde van betogings teen die regering. Minstens 76 mense is gister dood in voortgesette geweld tussen die polisie en betogers. Duisende mense het die strate ingevaar en geëis premier Sheikh Hasina moet bedank. Dit volg ná betogings verlede maand teen kwotas vir staatswerk waarin minstens 150 mense omgekom het. Hasina sê diegene wat betoog is nie studente nie, maar terroriste wat daarop uit is om die land te destabiliseer.
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse naelloper Akani Simbine het net-net ‘n bronsmedalje misgeloop en vierde geëindig in die mans se 100 meter-finaal in Parys. Hy het ‘n nuwe nasionale rekord opgestel met ‘n tyd van 9,82-sekondes. Die wêreldkampioen Noah Lyles van die VSA het die goue medalje met vyf-duisendstes van ‘n sekonde gewen met Jamaika se Kishane Thompson wat die silwer en die Amerikaner Fred Kerley wat die brons verower het. Intussen het Suid-Afrika se Prudence Sekgodiso as Olimpiese nuweling gekwalifiseer vir die 800-meter-finaal vir vroue in ‘n tyd van een-minuut-57,5 sekondes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-456-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-443-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….