Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die president van ActionSA en voormalige burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba het die ANC gewaarsku dat indien hy nie Al Jama-ah-raadslid, Kabelo Gwamanda as burgemeester verwyder nie, hy sy voorwaardelike steun aan die party sal onttrek.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Suid-Afrikaanse Olimpiese verspringer Jovan van Vuuren het gister ná ’n powere vertoning in die Stade de France onthul hy het Saterdag doodsdreigemente ontvang. Dit hou onder meer verband met die gebruik van verbode middels en die selfdood van ‘n vriend. Die polisie ondersoek die saak.
En tweedens skryf die koerant die burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste in die Johannesburg-metro, Loyiso Masuku sê sy beskik oor talle bewyse van finansiële wangedrag in die metro.
# The Star en Pretoria News:
Berig ook oor ActionSA se voorwaardes oor die Johannesburgse burgemeester en skryf Kabelo Gwamanda is op pad uit.
En tweedens skryf die koerant Suid-Afrika het nou een van die grooste dwelmhandel-lande in die wêreld geword.
# En Sowetan:
Berig die polisie het 90 Ethiopiese burgers uit ‘n huis in Lyndhurst in Johannesburg gered waar hulle onder haglike omstandighede deur ontvoerders aangehou is.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die dreigemente teen Jovan van Vuuren.
En tweedens skryf die koerant oor die erewag wat by die Mediclinic Bloemfontein gevorm is vir die 54-jarige Carel Theron van der Merwe wat breindood verklaar is nadat hy van trappe afgeval het. Van der Merwe was op pad na die teater om sy organe te skenk.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
Dan skryf die koerant die imbizo’s wat deur president Cyril Ramaphosa gehou word om die publiek in te lig, is skerp gekritiseer nadat dit aan die lig gekom het dat daar die afgelope agt maande 45-miljoen-rand daarop bestee is.
En laastens is daar nuus oor ‘n jong luiperd wat ‘n kalf op ‘n plaas in Groot Marico gevang het. Hy is gevang en vér van sy bestaande jagveld vrygelaat.
# En Cape Times:
Skryf Ramaphosa het die mislukte metrorade die skuld gegee vir die ANC se verlies aan stemme in die verkiesing.
En berig die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille het die Vryheidsfront Plus daarvan beskuldig dat die party te kwader trou opgetree het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ouers van ‘n tiener van Hankey het talle onbeantwoorde vrae nadat sy selfdood gepleeg as gevolg van ‘n geboelie by die skool.
En tweedens skryf die koerant die gewilde Richmond Hill Street Music Festival is gekanselleer nadat die munisipaliteit sy borgskap onttrek het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli sê een van die vernaamste redes hoekom beleggers uit die provinsie onttrek, is hoë misdaadvlakke. Hy het ‘n beroep gedoen dat alle partye saamwerk om misdaad te bekamp.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Berig opruimingswerk is steeds aan die gang na ‘n verwoestende brand fabrieke, pakhuise en kantore in Manchesterweg, Raisethorpe in puin gelê het. Die oorsaak van die brand word ondersoek.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die man wat na homself verwys as “die mense se generaal”, Michael Amushelelo se bates sal weens bedrogklagtes aan die staat verbeur word.
En tweedens skryf die koerant meer as 152-duisend kiesers is tydens die laaste vier dae van kieserregistrasie geregistreer. Dit is ’n gemiddeld van 38-duisend per dag.