Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party sê die ANC se handelsmerk-appèl is vrugteloos
# ‘n Ontleder sê die ANC se nasionale uitvoerende komitee moet selfondersoek doen om openbare vertroue terug te wen
# En, sokker: Kylian Mbappé koop ‘n meerderheidsaandeel in ‘n Franse tweede liga-klub
# Die regsverteenwoordiger van die MK-party, Dali Mpofu, sê die handelsmerk-appèl van die ANC is doodgebore. Die Hooggeregshof in Durban hoor die aansoek van die ANC aan vir verlof tot appèl teen die uitspraak in April dat die MK-party die naam en logo van sy voormalige gewapende vleuel gebruik. Die verhoor is ook die eerste geleentheid waar oudpresident Jacob Zuma teenwoordig is nadat hy vroeër die week uit die ANC geskop is. Mpofu het aan die hof gesê die ANC se appèl is vrugteloos:
‘n Politieke ontleder, Levy Ndou, sê intussen die ANC moet selfondersoek doen en op die party se rol in die regering van nasionale eenheid fokus. Dit volg na hy sy algehele meerderheid in Mei se verkiesing verloor het. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee hou van Sondag tot Dinsdag ‘n legotla in Boksburg. Hy sal na verwagting beleidsprogramme uiteensit wat op sy manifes se voorkeure gegrond is. Ndou het aan die SABC benadruk die ANC moet openbare vertroue terugwen deur die instelling van doeltreffende programme:
# Die vakbondfederasie Saftu het ‘n finalis in Mej Suid-Afrika, Chidinma Adetshina, moed ingepraat om afknouery te oorkom en steeds om die kroon mee te ding. Dit volg te midde van ‘n bohaai oor haar Suid-Afrikaanse burgerskap. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gauton Mckenzie, het ongelukkig bygedra tot die bullebak-optrede teen Adetshina en die veldtog teen haar op die internet versterk:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement ondersoek die moontlikheid om naweekkospakkies aan leerders in die skoolvoedingsprogram te verskaf. Die program het landwyd ‘n toekenning van 9,7-miljard-rand vir die 2024/’25-boekjaar ontvang. Dit is ‘n verhoging van 5,6-persent teenoor die vorige boekjaar. Meer as 500-duisend kwesbare leerders in die Wes-Kaap ontvang elke jaar gratis maaltye deur die voedingsprogram. Premier Alan Winde sê die werklikheid is dat talle leerders hulle laaste maaltyd Vrydag kry en hulle volgende maaltyd eers Maandagoggend.
# Sokker: Die maatskappy van die Franse ster, Kylian Mbappé, het die meerderheidsaandeel in die plaaslike tweede liga-klub Caen aangeskaf. Die 25-jarige voorspeler het volgens berigte 295-miljoen-rand van sy eie geld in die transaksie belê deur middel van die maatskappy se beleggingsvleuel. Dit is dieselfde wat Mbappé per seisoen by Real Madrid sal verdien, waar hy onlangs aangesluit het vanaf Paris Saint-Germain. Die voorsitter van die toesighoudende raad, Pierre-Antoine Capton, bly ‘n minderheidsaandeelhouer. Die klub is in 2019 uit die eerste liga gerelegeer en het verlede seisoen sesde geëindig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-369-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-434-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….