Nuus 09:00
BULLETIN 31 julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se Onderwyskomitee sê barbaarse rassisme-voorvalle moet veroordeel word
# Action Society druk OPOD en die polisieminister vir vordering met die bloulig-mafia-saak
# En die Britse premier veroordeel die gewelddadige betogings ná ‘n dodelike mesaanval in Southport
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Onderwys het kommer uitgespreek oor die onlangse voorvalle van rassisme by twee skole. Twaalf wit kinders by Pretoria Girls High is geskors omdat hulle na bewering beledigende boodskappe oor swart klasmaats op ‘n WhatsApp-groep gedeel het. Die skoolhoof is ook geskors hangende ʼn ondersoek. In Kaapstad is verskeie bruin leerders by Pinelands High School geskors nadat hulle in ʼn vermeende rassevoorval swart klasmaats opgeveil het. Die komitee sê sulke barbaarse en onbeskaafde optrede moet veroordeel word.
# Action Society versoek die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat en die minister van Polisie, Senzo Mchunu, om die saak oor die blouligmafia van die beskermingseenheid van adjunkpresident Paul Mashatile, voorrang te laat geniet. Die agt beamptes is verlede jaar verfilm waar hulle ‘n motoris aanrand op die N1 naby Winnie Mandelarylaan. Juanita du Preez van Action Society beskuldig die verdediging in die Landdroshof op Randburg van tydmors met bisarre kruisondervraging en eis aanspreeklikheid en veiligheid vir alle padgebruikers.
# Vyf verdagtes wat gesoek word vir ʼn reeks moorde en rooftogte by sakeondernemings is gisteraand in Cato Crest, KwaZulu-Natal, in ʼn skietgeveg met die polisie dood. Die verdagtes word positief verbind met vier moorde, 13 sake-rooftogte en ʼn voertuigkaping. Die polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê die verdagtes is in ‘n huurwoonstel in Standard-weg in Cato Crest gekonfronteer:
# Die Britse eerste minister Keir Starmer het die gewelddadige betoging in Southport waartydens 39 polisiebeamptes beseer is, veroordeel. Die betoging volg na Maandag se mesaanval waarin drie kinders, wat ʼn dansklas met ʼn Taylor Swift-tema bygewoon het, dood is. Agt kinders het steekwonde opgedoen en vyf is in ʼn bedenklike toestand in die hospitaal. Twee volwassenes is ook ernstig beseer. ʼn Sewentienjarige jeugdige is in hegtenis geneem. Starmer sê die betogers het die waak vir die slagoffers met geweld en boewery gekaap:
# Olimpiese Spele: Simone Biles is nou die Amerikaanse gimnas wat die meeste Olimpiese medaljes in die geskiedenis verower het, na sy die Amerikaanse vrouegimnastiekspan na ‘n goue medalje in Pary gelei het. Die span van vyf vroue, bestaande uit Biles, Sunisa Lee, Jordan Chiles, Jade Carey en Hezly Rivera het byna ses punte voor Italië geëindig wat hulle eerste artistieke-gimnastiekmedalje in 96 jaar verower het. Brasilië het die bronsmedalje gekry – die eerste in die land se geskiedenis. Biles het nou vyf goue medaljes, een silwer en twee brons om haar nek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-620-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-419-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….