Nuus 06:00
BULLETIN 31 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê Suid-Afrika loop nie ‘n risiko om uitgesluit te word by AGOA nie
# Die DA wil mosies van wantroue beperk met sy nuwe voorgestelde wetsontwerpe
# En Olimpiese Spele: Al Jama-ah loof die adjunkminister se veroordeling van Israel se atlete by die Spele
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau sê Suid-Afrika en die VSA het ingestem om die bilaterale handels- en beleggingsraamwerkooreenkoms te laat herleef. Dit sal bykomend wees tot die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, wat volgende jaar verval. Tau sê hy vertrou Suid-Afrika loop nie die risiko om uitgesluit te word van AGOA nie. Dit stel sekere Afrikalande vry van belasting op uitvoere na die VSA:
# Die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming berig Suid-Afrika se ernstige fiskale krisis strem ekonomiese groei, as gevolg van hoë rentekoerse, onvolhoubare skuld en verminderde belegging. Die sentrum se jongste verslag kritiseer regeringsmaatreëls, soos die gebruik van pensioenfondse vir openbare infrastruktuur, as finansieel onderdrukkend. Die verslag het bevind die vinnige styging van die koste van skulddelging, hoë reële rentekoerse en wanaanwending van hulpbronne ondermyn groei. Die sentrum waarsku dié faktore, wat aangedryf word deur langtermyn strukturele swakhede, hou ‘n ernstige gevaar in vir die land se ekonomiese toekoms.
# Die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie is verontwaardig oor wat hy noem, die oneerbiedige loononderhandelings met die land se 257 munisipaliteite. Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering en vakbonde het verlede week met die tweede rondte onderhandelings begin. Salga het sy loonaanbod van 3,5-persent tot 3,75-persent aangepas, terwyl Samwu se eis ‘n 15-persent loonverhoging van een jaar bevat. Die vakbond sê Salga se aanbod verontagsaam die onskatbare bydraes en opofferings van munisipale werkers.
# Die DA wil wetsontwerpe indien om koalisies te stabiliseer om die misbruik van mosies van wantroue te verhinder. Dit volg na die onlangse poging deur die ANC om die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, te verwyder wat die party beskou as ‘n ontwrigting van doeltreffende regering. ‘n Woordvoerder van die DA, Baxolile Nodada, sê die voorgestelde wetsontwerpe moet die herhaling van hierdie mosies verhinder met net een per ampsdraer per jaar met uitsonderings vir ernstige oortredings:
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie sê die KwaZulu-Natalse Onderwysdepartement het min gedoen vir onderwysersveiligheid ondanks talle pogings om dit te bespreek. Dit volg nadat twee gewapende mans Maandag ‘n laerskoolonderwyser ten aanskoue van leerlinge en haar kollegas doodgeskiet het by die Phikiswayo Primary School in Ntuzuma, noord van Durban. Sadou het die moord op die onderwyser as brutaal en onmenslik beskryf. Hy het sy oproep aan die departement herhaal om ‘n skoolveiligheids- en sekerheidsindaba te hou.
# Olimpiese Spele: Al Jama-ah is sterk ondersteuners van die adjunkminister van Sport, Kuns en Kultuur Peace Mabe se veroordeling van die Internasionale Olimpiese Komitee se besluit om Israelse atlete toe te laat om deel te neem in Parys. Die party kritiseer minister Gayton McKenzie se teenstand teen die standpunt, en vergelyk dit met die boikot van apartheid-Suid-Afrika in die 1970’s. Shameema Salie van Al Jama-ah vra Israelse atlete moet verbied word weens voortgesette geweld teen Palestyne:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-202-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-409-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….