Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 31 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf oudregter John Hlophe van die MK-party sal hom waarskynlik aan die Regterlike Dienskommissie se verhoor moet onttrek wanneer die pos van die Wes-Kaapse regterpresident ter sprake kom. Sy voormalige adjunk, Patricia Goliath is ‘n kandidaat en sy het hom van talle oortredings beskuldig toe hy die pos beklee het.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die hoof van die Pretoria High School for Girls, Phillipa Erasmus is vir 90 dae geskors te midde van die polemiek oor beweerde rassekommentaar deur leerders op ’n WhatsApp-groep.
En tweedens skryf die koerant die Earth-sentrum in Ruimsig, Roodepoort, skep hoop vir kwesbare, gestremde en minderbevoorregte kinders met sy terapieperde.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oudpresident Jacob Zuma se verteenwoordiger by sy tugverhoor, Tony Yengeni sê Zuma is onregverdig behandel in die verhoor.
En tweedens word ook berig oor die skorsing van Erasmus.
# Sowetan:
Berig oor ‘n 67-jarige man wat per ongeluk by ‘n kitsbank doodgeskiet is toe ‘n sekuriteitswag in ‘n struweling met ‘n jong man betrokke geraak het.
# En The Citizen:
Skryf daar heers kommer oor die toenemende aantal polisiebeamptes wat selfdood pleeg.
En berig Suid-Afrika se swem-ster, Tatjana Smith is op soek na nog goue medaljes by die Olimpiese Spele.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die DA se kiesbestuurstelsel is tydens die registrasie van kiesers by Kelly’s View buite Bloemfontein gesteel.
En skryf die Weerdiens voorspel uiterse koue en sterk wind kan vandag skade aanrig in die Suid-Vrystaat, Noordoos-Kaap en dele van die Noord-Kaap.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens ook oor die moontlikheid dat oudregter John Hlophe op die Regterlike Dienskommissie gaan sit terwyl sy opvolger gekies word.
En tweedens skryf die koerant Edwald Bakkes het aan die beserings beswyk wat hy in ‘n motorongeluk op die N1 by die Du Toitskloofpas opgedoen het. Sy vrou Jackie en 16-jarige seun, Ethan is op slag dood in die ongeluk.
# En Cape Times:
Skryf die SABC en Spesiale Ondersoekeenheid oorweeg hul volgende stap nadat die hof beslis het dat Hlaudi Motsoeneng en voormalige uitvoerende hoofde van die uitsaaier nie persoonlik aanspreeklik gehou kan word vir fondse wat op musieklegendes bestee is nie.
En berig ook oor die skorsing van die hoof van die Pretoria High School for Girls.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig vragmotors wat vraghouers vervoer moet tot 14 uur wag om hulle vrag by die Ngqura-hawe af te laai en Transnet doen geen moeite om met hulle te vergader nie.
En tweedens skryf die koerant pasiënte by die Booysenpark-kliniek word gedwing om in die ysweer op die gras slaap, aangesien slegs ‘n paar mense op ‘n slag ingelaat word ná ‘n rooftog in Junie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf koning MisuZulu ka Zwelithini het tydens sy openingstoespraak in die KwaZulu-Natalse wetgewer ‘n boodskap van hoop gebring vir die provinsie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n 29-jarige onderwyser van ‘n laerskool in die Noorde is uit sy pos ontslaan, nadat hy skuldig bevind is aan lyfstraf.
En tweedens skryf die koerant die leier van die Affirmative Repositioning Movement, Job Amupanda sê die LGBTQ+-bespreking is nie ’n wesenlike kwessie waaroor hy kop behoort te verloor nie.