Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu vra die regering vir besliste optrede om te sorg dat skole veilig is
# Minister Kubayi is bekommerd oor informele nedersettings wat buite beheer opskiet
# En, die Olimpiese Spele: Die mans-driekamp is uitgestel weens die swak watergehalte van die Seine
# Die vakbondfederasie Saftu versoek die regering vir besliste optrede om te sorg dat leerders en onderwysers veilig kan wees by skole. Dit volg nadat twee gewapende aanvallers gister ‘n onderwyseres ten aanskoue van leerders en haar kollegas doodgeskiet het by die Laerskool Phikiswayo in Ntuzuma, Durban. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê ‘n skool moet altyd ‘n plek van veiligheid en onderrig wees:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi, beklemtooon die behoefte vir ‘n strenger benadering oor die onwettige besetting van grond. Sy sê informele nedersettings wat oral opskiet, is onvolhoubaar en moet beheer word. Die ministerie se woordvoerder, Hlengiwe Nhlabathi-Mokota, sê dit is baie belangrik om leefbare woonbuurte in sowel landelike as stedelike gebiede te skep en ruimtelike hervorming te bereik:
# Die EFF het president Nicolás Maduro van Venezuela gelukgewens met sy herverkiesing. Duisende mense het gister in die middestad van Caracas betoog en geëis die regering moet uitgeskop word oor beweerde verkiesingsonreëlmatighede. Die opposisie sê Maduro se verklaring van sy oorwinning is bedrieglik en sý kandidaat, Edmundo González, het oortuigend gewen met 73,2-persent van die steun. Die EFF sê Maduro se oorwinning getuig van die reuse-vordering wat hy gemaak het omdat hy die behoeftes en welsyn van die massas bo die belange van die elite gestel het.
# Olimpiese Spele: Die mans individuele driekamp-item is uitgestel weens die besoedeling van die Seine-rivier in Parys. Wêreld-driekamp sê watergehaltetoetse wat vroeg vanoggend uitgevoer is, toon die water van die rivier wat deur die Franse hoofstad vloei, is nie veilig vir swem nie. Die liggaam sê ondanks die verbeterde watergehalte die laaste paar uur, is lesings by sekere punte op die swemroete nog bo die aanvaarbare perk. Die kompetisie, wat oorspronklik vir vandag geskeduleer was, sal nou môre ná die individuele vroue-kompetisie plaasvind.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-844-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-389-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-82-sent per vat.
# En ten slotte: Navorsers aan die Binghamton Universiteit in New York het ‘n selfaangedrewe apparaat ontwikkel wat oor water kan gly met ‘n moontlike uitwerking op water-robotika. Die doel is om probleme te hanteer in water, wat 71-persent van die aarde se oppervlak beslaan. Professor Seokheun Choi sê die water-robot is meer betroubaar onder moeilike omstandighede as sonkrag-, kinetiese of termiese energiestelsels. Hy sê die vernuwende tegnologie kan die manier verander waarop data in see-gebiede ingesamel en oorgedra word, en monitering van die omgewing en maritieme bedrywighede verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….