Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons het baie nuus oor die Olimpiese Spele: Die swem-ster Tatjana Smith het Suid-Afrika se eerste goue medalje in Parys gewen. Sy was eerste in die 100 meter borsslag vir vroue, gevolg deur QT Tang van China met silwer en Mona McSharry van Ierland, wat brons verower het. Intussen het Alan Hatherly die bronsmedalje in die bergfietsry vir mans gewen. Hy is die eerste Suid-Afrikaner wat ‘n medalje in die sport wen sedert die land se terugkeer ná internasionale isolasie in 1992. Smith sê sy het geswem vir almal wat in haar glo:
President Cyril Ramaphosa het Smith en Hatherly gelukgewens, en sê hy sien uit na nog skitterende prestasies deur Span Suid-Afrika. Smith sê sy het baie geleer uit die vorige Spele in Tokio toe sy in dieselfde item silwer gewen het:
Die Suid-Afrikaanse mans sewes-rugbyspan sal vanmiddag vanuit Parys op die Kaapstadse Internasionale Lughawe aanland. Die span, met afrigter Philip Snyman en Selvyn Davis as kaptein, het brons verower deur Australië 26-19 te verslaan in die uitspeelstryd om derde plek. Snyman skryf die oorwinning toe aan die spelers se toewyding ondanks ‘n seisoen vol uitdagings wat daartoe gelei het dat hulle eers op die nippertjie vir die Spele kon kwalifiseer.
Die mans individuele driekamp-item is uitgestel weens die besoedeling van die Seine-rivier in Parys. Wêreld-driekamp sê watergehaltetoetse wat vroeg vanoggend uitgevoer is, toon die water van die rivier wat deur die Franse hoofstad vloei, is nie veilig vir swem nie. Die liggaam sê ondanks die verbeterde watergehalte die laaste paar uur, is lesings by sekere punte op die swemroete nog bo die aanvaarbare perk. Die kompetisie, wat oorspronklik vir vandag geskeduleer was, sal nou môre ná die inividuele vroue-kompetisie plaasvind.
Die Amerikaanse sierskaatsspan van die Winterspele in Beijing in 2022 kry volgende week uiteindelik hulle goue medalje. Dit volg nadat die Russiese tiener Kamila Valieva vroeër gedurende 2022 skuldig bevind is aan die gebruik van opkikkers en vir vier jaar geskors is. Haar punte is afgetrek en Rusland het teruggesak tot die bronsmedalje, met Japan die wenner van die silwermedalje. Die Internasionale Olimpiese Komitee sê hoewel die oomblik vir ‘n goue medalje-oorwinning onvervangbaar is, voel die atlete Parys is so goed soos enige ander plek.
# Ons sluit vandag af met motorsport: Die Ferrari-renjaer Carlos Sainz gaan volgende jaar by Williams aansluit nadat hy ‘n twee jaar-kontrak met dié Formule Een-span gesluit het. Die Spanjaard sal by Alex Albon aansluit, en by Ferrari vervang word deur die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton. Williams se hoof, James Vowles, beskryf Sainz se ondertekening as ‘n sterk verklaring van voorneme. Sainz sê hy is vol vertroue Williams is op die regte plek om sy Formule 1-reis voort te sit:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….