Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die African Energy Chamber het sy teleurstelling uitgespreek oor die onttrekking van die Franse energiereus TotalEnergies aan gasveldprojekte in Suid-Afrika. Dit word toegeskryf aan rompslomp en regulatoriese struikelblokke wat maatskappye kniehalter wat energieprojekte probeer ontwikkel.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens oor Tatjana Smith se Olimpiese goue medalje in die 100 meter-borsslag vir vroue.
Dan skryf die koerant ‘n verdagte het in die hof verskyn in verband met die moord op die 81-jarige Dirk Kritzinger van Cullinan. Hy is skynbaar oorval terwyl hy besig was om hoenders kos te gee.
En laastens is daar nuus oor die Nasionale Dieretuin in Pretoria se 43-jarige olifant Charley wat by ‘n wildreservaat in Limpopo gaan aftree.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die permanente skorsing van oudpresident Jacob Zuma uit die ANC kan in sy guns tel.
En berig die Nasionale Vervolgingsgesag gaan die 95 Libiese burgers wat militêre opleiding in Mpumalanga ontvang het vervolg.
# Sowetan:
Het met een van die Libiese rekrute gepraat wat beweer hulle is deur ‘n Libiese sakeman gewerf. Die koerant skryf die media in Saoedi-Arabië verbind die groep Libiërs met die hoof van die Libiese weermag.
# En The Citizen:
Skryf oor Zuma se rol vorentoe en bespiegel of hy daarin gaan slaag om die ANC te vernietig.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met ‘n hooffoto van Tatjana in die swembad kort nadat sy die goue medalje gewen het.
Die koerant berig die hoof van vaskulêre chirurgie by die Universitas Hospitaal, professor Asha Malan, het verkies om ‘n privaat praktyk te open nadat sy nie meer die beweerde politieke inmengery by die opleidingshospitaal kon hanteer nie.
En laastens skryf die koerant die permanente skorsing van Zuma uit die ANC is volgens politieke kenners nie die einde van die saga nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die ANC sê Zuma se skorsing uit die party is deur sy eie toedoen. Die oudpresident het nou 21 dae om appèl aan te teken en kenners sê hy sal dit solank as moontlik tot sy eie voordeel uitrek.
Dan skryf die koerant leerders van die Pinelands High School is geskors nadat hulle na bewering swart leerders as slawe opgeveil het.
En laastens is daar nuus oor die bergfietsryer, Alan Hatherley se brons medalje by die Olimpiese Spele – ‘n eerste vir Suid-Afrika.
# En Cape Times:
Skryf alles word in die stryd gewerp om ‘n oliestorting aan die Weskus onder beheer te bring.
En berig ook oor Zuma se stryd met die ANC, die moontlike vervolging van die Libiese rekrute en Tatjana se goue medalje.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Gary van Niekerk gaan voor ‘n veelparty-ondersoekkomitee verskyn wat sy moontlike skorsing uit die raad oorweeg.
En skryf die Oostelike Provinsie Rugbyskeidsregtersvereniging veroordeel ‘n vermeende aanval op ‘n skeidsregter tydens ‘n wedstryd tussen Muir College en Hoërskool Despatch.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei met: “END OF AN ERA”. Die koerant skryf oor Zuma se skorsing uit die ANC en berig politieke ontleders waarsku die ANC gaan spyt wees oor die stap.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Meatco se raad het besluit om nie sy uitvoerende hoof, Mwilima Mushokabanji se kontrak te verleng wanneer dit Januarie 2025 verstryk nie. Dit volg ten spyte van die delging van sy skuld aan die Ontwikkelingsbank van Namibië.
En tweedens skryf die koerant die Hooggeregshof in Windhoek het sewe mans skuldig bevind aan hoogverraad 20 jaar nadat hulle saamgesweer het om die Caprivi-streek van Namibië af te skei. Een van die veroordeeldes is sedert die begin van die hofsaak oorlede.