Nuus 06:00
BULLETIN 30 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Tatjana Smith wen Suid-Afrika se eerste goue medalje in Parys
# Die netwerkstelsels by die Kaapstad Internasionale Lughawe sal na verwagting vandag herstel word
# En, ses LP’s staan tou om Sunak te vervang as die nuwe leier van die Konserwatiewe Party
# Ons begin die bulletin met Olimpiese nuus: Die swem-ster Tatjana Smith het Suid-Afrika se eerste goue medalje in Parys gewen. Sy was eerste in die 100 meter borsslag vir vroue, gevolg deur China se QT Tang met silwer en Ierland se Mona McSharry wat die brons verower het. Intussen het Alan Hatherly die bronsmedalje in die bergfietsry vir mans gewen. Hy is die eerste Suid-Afrikaner wat ‘n medalje in die sport wen sedert die land se terugkeer in 1992, ná internasionale isolasie. Smith sê sy het geswem vir almal wat in haar glo:
# Die skorsing van die ANC se voormalige tesourier in Mpumalanga, Mandla Msibi, is gehandhaaf. Die party se nasionale tugkomitee het sy skorsing bevestig vir die sabotasie van die ANC se 8 Januarie-viering deur ‘n betoging te reël. Ondanks versoeke vir ‘n strenger vonnis, het die komitee die skorsing van drie jaar onderskryf, en Msibi se appèl van die hand gewys. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê Msibi bly ‘n lid van die party, met ‘n kans op versoening:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het voortgesette samewerking met SALGA en munisipaliteite bevestig om ‘n robuuste elektrisiteitsprysplan te ontwikkel. Ramokgopa het Suid-Afrikaners verseker van sy toewyding om ‘n oplossing vir die stygende koste van elektrisiteit te vind. Hy beklemtoon die belangrikheid van samewerking met Nersa om verbruikers te beskerm, onder wie armes en gemarginaliseerdes, terwyl bekostigbaarheid en mededingendheid behou word:
# Die Gautengse Onderwysdepartement sal vandag die ondersoekverslag oor die verdrinking van twee leerders van die Daveyton-vaardigheidskool in Benoni bekend maak. Die 15-jarige Siphamandla Peterson en 17-jarige Sibusiso Sibiya het in April verdrink terwyl hulle op ‘n skoolkamp by die Hennopsrivier in Centurion was. Kort ná die voorval het die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane gesê volgens voorlopige bevindings was die uitstappie nie goedgekeur nie en geen onderwyser het die leerders vergesel nie.
# Die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika sê al die netwerkbedryfstelsels by die Kaapstad Internasionale Lughawe sal na verwagting vandag normaal funksioneer. Dit volg ná ‘n kragonderbreking Sondagaand wat aanloopbaanligte, brandreddingsdienste en lugverkeernavigasiedienste beïnvloed het. Van die vlugte is vertraag terwyl sommige na nabygeleë lughawes herlei moes word. ACSA sê die herstel van kragtoevoer het veilige lugverkeer moontlik gemaak.
# Ses aanspraakmakers het tot die stryd toegetree om Rishi Sunak te vervang as leier van die Britse Konserwatiewe Party. Hulle is Kemi Badenoch, James Cleverly, Robert Jenrick, Priti Patel, Mel Stride en Tom Tugendhat. Sunak het bedank na die Arbeidersparty van Keir Starmer se oorweldigende sege in die algemene verkiesing wat die Tories se regering na 14 jaar beëindig het. Benoemings het gister gesluit en die lys word eers tot vier en later tot twee verminder waarna LP’s ‘n nuwe leier sal verkies wat op twee November bekend sal word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-898-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-381-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….