Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula beskuldig Zuma van ondermyning van die ANC se integriteit
# Vier mense verskyn môre in die hof na ‘n dodelike skietery by ‘n taverne in Orkney
# En, die Olimpiese Spele: Suid-Afrika hoop Tatjana Smith en Pieter Coetze sal vanaand by die land se medaljetelling voeg
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, beskuldig oudpresident Jacob Zuma van die ondermyning van die party se integriteit en die voer van ‘n veldtog teen die ANC, terwyl hy aanspraak maak op die behoud van sy lidmaatskap. Mbalula het op ‘n nuuskonferensie bevestig die nasionale tugkomitee het Zuma skuldig bevind aan wangedrag, en aanbeveel hy moet uitgeskop word. Hy veroordeel die leier van die MK-party vir die ondermyning van die verkiesing- en regstelsels en die aanhits van onluste:
# Vier mense wat aangekeer is in verband met Saterdag se dodelike skietery by ‘n taverne in Orkney, Noordwes, sal na verwagting môre in die plaaslike Landdroshof verskyn. Die beskuldigdes is almal burgers van Lesotho. Twee vroue en ses mans is dood tydens die aanval in Kanana, en verskeie gewond. Die aanvallers het ook besoekers van selfone beroof en met kontant, die kringtelevisiestelsel en ‘n snoekertafel op die vlug geslaan. Polisiewoordvoerder Sabata Mokgwabone sê die vier sal tereg staan op verskeie aanklagte, insluitend moord en poging tot moord.
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê sy departement werk om energie-ongelykheid te verminder. Ramakgopa het op ‘n nuuskonferensie die pogings uitgelig om ladingsverminderingskwessies op te los. Die minister herbevestig ou infrastruktuur, onwettige verbindings en ‘n gebrek aan onderhoud lei daartoe dat die vraag die aanbod oorskry. Hy sê dit raak armes buite verhouding erg, en laat energie-ongelykheid voortduur:
# Die Suid-Afrikaanse Instituut van Siviele Ingenieurswese versoek ‘n verbintenis tot billike tenderpryse om die gehalte en integriteit van ingenieursprojekte te verseker. Die president van die instituut, Andrew Clothier, verwys na die druk op ingenieurs om fooie te verlaag ten spyte van ooreenstemming met gepubliseerde amptelike tariewe. Hy sê dit bring die haalbaarheid van projekte asook risikobestuur in die gedrang. Die uitvoerende hoof, Sekadi Phayane-Shakhane, vra die versterking van riglyne vir fooie asook regverdige tenderpraktyke om die professionele integriteit en finansiële welstand van ingenieursmaatskappye te handhaaf.
# Olimpiese Spele: Suid-Afrika hoop vir nog twee medaljes vanaand nadat die Blitsbokke Saterdag brons gewen het. Die swemmers Tatjana Smith en Pieter Coetze neem albei aan eindrondes deel – Smith aan die 100-meter borsslag en Coetze aan die 100-meter rugslag. Albei staan ‘n baie goeie kans, met Smith wat ‘n silwer in die item losgeslaan het op die vorige Spele in Tokio, terwyl die 20-jarige Coetze ‘n nuwe Afrikarekord in die halfeindronde opgestel het. Coetze se wedloop begin vanaand 9:19 en Smith s’n ses minute later.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-885-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-395-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….