Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die Gautengse Gesondheidsdepartement het 1,1-miljard-rand onderbestee ondanks die noodsaaklikheid vir verbeterde dienslewering
# Die Pluimveevereniging steun die voorstel om BTW op hoender op te hef om lae-inkomstehuishoudings te help
# En, die Olimpiese Spele: Die SA Sionistefederasie steun minister McKenzie se standpunt oor die verpolitisering van die Olimpiese Spele
# Die DA in Gauteng sê die provinsiale Departement van Gesondheid het versuim om 1,1-miljard-rand van die begroting van 2023/’24 te bestee ten spyte van die dringende behoefte aan verbeterde dienslewering. Dit is tydens die vergadering van die provinsiale Gesondheidskomitee bekendgemaak deur die departementshoof, Arnold Malotana. DA-woordvoerder Jack Bloom, sê volgens Malotana het hulle by die Tesourie aansoek gedoen om 780-miljoen-rand na hierdie finansiële jaar oor te dra, maar goedkeuring is nog nie verkry nie:
# Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging is ten gunste van president Cyril Ramaphosa se plan om die uitsluiting van Belasting op Toegevoegde Waarde op noodsaaklike kosprodukte uit te brei. Die vereniging vra die insluiting van geteikende hoenderprodukte, wat lewensnoodsaaklik is vir lae-inkomstehuishoudings. Die verwydering van BTW van 15-persent sal onmiddellik verligting bring te midde van pogings om pryse laag te hou . Die BTW-opheffingslys is laas in 2018 bygewerk, sonder die insluiting van hoender. Terwyl voedselpryse styg, vra die vereniging nou vir BTW-vrye hoender om arm verbruikers te steun.
# Minstens 15 Suid-Afrikaanse verkiesingswaarnemers, wat deel is van die oorsigspan vir die presidentsverkiesing in Venezuela, veroordeel Reuters se bewerings van bedrog as ongegrond. Die waarnemers, wat groepe verteenwoordig soos die ANC, die SAKP en COSATU, bevestig die proses was vry, regverdig en deursigtig. Hulle wens die owerhede in Venezuela geluk met die verkiesingsproses. Die span wys op die hoë kieserstal en die robuuste, deursigtige kiesstelsel.
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse Sionistefederasie versoek die regering om Israel se deelname aan die Spele te respekteer. Hulle steun die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, se standpunt teen die verpolitisering van sport en waarsku dit kan Suid-Afrika se verhouding met Amerika skaad. ‘n Woordvoerder, Rolene Marks, is gekant teen die oproep van die adjunkminister, Peace Mabe, teen Israel, aangesien dit strydig is met die Olimpiese waardes van eenheid en verskeidenheid:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-404-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-393-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-22-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Groep wetenskaplikes het nuwe bewyse gevind wat daarop dui ingewikkelde lewe het dalk 1,5-miljard-rand vroeër begin as wat voorheen aanvaar is. Die wetenskaplikes, wat in Gaboen werk, het in rotse afgekom op tekens van dierelewe wat 2,1-miljard jaar terugstrek. Die organismes is tot ‘n binnelandse see beperk en het uiteindelik uitgesterf. Die teorie, wat die aanvaarde geloof uitdaag dat dierelewe ongeveer 635-miljoen jaar gelede begin het, lok debat onder wetenskaplikes uit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….