Nuus 08:00
BULLETIN 29 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party is geskok oor die uitgelekte onthulings oor Zuma se skorsing by ANC
# ‘n Kragonderbreking by Kaapstadse Internasionale Lughawe ontwrig vlugte
# En, Motorsport: Hamilton wen die Belgiese Grand Prix nadat Russell gediskwalifiseer word
# Die MK-party sê dis skandelik dat ‘n dokument van die ANC se nasionale tugkomitee waarin Zuma uit die party geskors word, uitgelek het. Die komitee het Zuma skuldig bevind dat hy die ANC se grondwet oortree het en aanbeveel dat hy geskors word. Die oudpresident is verlede week virtueel verhoor met die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, as hoofgetuie. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, het aan die SABC gesê hulle het nog geen amptelike kommunikasie van die ANC ontvang nie:
# Die Raad op Mediese Skemas het in die Hooggeregshof in Pretoria aansoek gedoen om te appelleer teen die opheffing van die voorlopige kuratorskap van die Suid-Afrikaanse Poskantoor se mediese skema, Medipos. Die raad het in Februarie ʼn hooggeregshofbevel bekom om die skema onder kuratorskap te plaas en aangevoer dis finansieel onvolhoubaar. Die kuratorskap is egter op die 19de van die maand opgehef nadat die raad van trustees dit uitgedaag het. Die Raad op Gesondheidsorg-befondsers sê die besluit om te appelleer is betreurenswaardig en moontlik ʼn verkwistende uitgawe.
# Die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika sê hy kon sommige vlugte insluitend SAL, Delta en United Airlines na die Kaapstadse Internasionale lughawe terugbring. Dit volg na alle vlugte gisteraand weggewys is weens ‘n kragonderbreking wat die landingsligte en lugverkeersnavigasiedienste geraak het. Verskeie FlySafair-vlugte van Johannesburg na Kaapstad is na die Dawid Stuurman-Internasionale Lughawe in Gqeberha verwys terwyl twee vlugte van Johannesburg na Kaapstad teruggekeer het.
# Die uitleweringsaak van die Ndimande-broers wat in Eswatini gearresteer is in verband met die moord op die kletsrymer, Kiernan AKA Forbes, en sy vriend, Tebello Motsoane, hervat vandag in die Manzini-landdroshof. Siyabonga en Malusi Ndimande en vyf ander word tans in die Westville-gevangenis in KwaZulu-Natal aangehou. Hulle staar twee aanklagte van moord, sameswering om te moor en onwettige besit van ʼn vuurwapen in die gesig. Forbes en Motsoane is in Februarie buite die Wish-restaurant in Durban doodgeskiet.
# Motorsport: Die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het die Belgiese Grand Prix opgeraap nadat sy Mercedes-spanmaat, George Russell, gediskwalifiseer is. Russell was die wenner ná ʼn eenstop-strategie waar hy met harde bande op sy renmotor die geruite vlag gehaal en Hamilton met ʼn halwe sekonde geklop het. Daar is egter ná die wedren bevind sy voertuig was ondergewig. Oscar Piastri van McLaren is na die tweede plek bevorder en Charles Leclerc van Ferrari na die derde plek. Hamilton sê hy is tevrede met die motor se werkverrigting:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-583-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-393-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….