Nuus 09:00
BULLETIN 17 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Minister van Basiese Onderwys dring aan op ‘n hersiening van die BELA-wetsontwerp
# Nicky Haley steun Donald Trump amptelik
# En rugby: Vier Junior Bok-spelers word uitgesluit vir die wedstryd teen Wallis
# Die minister van Basiese Onderwys Siviwe Gwarube sê haar ministerie sal ‘n versoekskrif aan president Cyril Ramaphosa voorlê vir die terugstuur van die Bela-wetsontwerp na die Parlement vir hersiening. Verskeie politieke partye, wat die DA insluit, het die wetsontwerp verwerp. As ‘n lid van die DA het Gwarube beklemtoon dit behoort hersien te word sodat leerders se toekoms nie met verouderde wetgewing op die spel geplaas word nie. Sy het aan die SABC gesê daar is nodige veranderings wat debatteer moet word:
# Die voormalige Hooggeregshof-regter, Nkola Motata, het die Konstitusionele Hof genader oor sy verwydering as ‘n regter. Die Regterlike Dienskommissie het hom aan growwe wangedrag skuldig bevind ná ‘n dronkbestuurvoorval in 2009. Die 77-jarige is in Februarie deur die Nasionale Vergadering in ‘n staat van beskuldiging geplaas en president Cyril Ramaphosa het hom in Maart amptelik verwyder. Motata wil die Nasionale Vergadering en Ramaphosa se besluit as ongeldig laat verklaar en tersyde stel. Hy voer aan die Nasionale Vergadering beskik nie oor die jurisdiksie om hom te verwyder nie.
# Die DA in Ekurhuleni het kommer uitgespreek oor die vertraging om ‘n hoof finansiële beampte aan te stel. Die Ouditeur-generaal oudit tans die metro sonder ʼn hoof finansiële beampte in die pos. Fana Nkosi van die DA sê dit wek kommer oor die metro se vermoë om finansiële verslae op ʼn aanspreeklike, doeltreffende en deursigtige manier te verskaf:
# ‘n Teenstander van Donald Trump in die voorverkiesings, Nikki Haley, het haar amptelike ondersteuning vir Trump aangekondig. In Maart, toe Haley die wedloop in die voorverkiesings teen Trump verloor het, het sy geweier om hom te steun. Maar in Mei het sy gesê sy sal vir hom stem ondanks haar fel kritiek teen hom tydens die veldtog. Haley het by die party se konvensie in Milwaukee gesê mense moet toegee daar is Amerikaners wat nie altyd met Trump saamstem nie:
# Rugby: Die Junior Springbokke het die agterspeler Wandile Mlaba ingeroep om die beseerde Likhona Finca te vervang vir hulle wedstryd om die sewende plek teen Wallis in die Wêreldrugby se Onder 20-Kampioenskap Vrydag in Kaapstad . Nog drie spelers is ook uit die groep vir die kragmeting gelaat weens beserings. Tiaan Jacobs en Michail Damon het onderskeidelik enkel- en liesbeserings opgedoen terwyl Thabang Mahashe harsingskudding het. Die afrigter, Bafana Nhleko gaan vanmiddag die span aankondig wat Wallis gaan aanvat.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-183-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-466-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….