Nuus 06:00
BULLETIN 16 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die finansiering van groen tegnologie is belangrik
# Trump se saak oor geklassifiseerde dokumente word van die hand gewys
# En ‘n PowerBall-speler wen 59-miljoen-rand deur ‘n banktoepassing
# President Cyril Ramaphosa benadruk die behoefte aan aansienlike beleggings in volhoubare infrastruktuur, groen tegnologieë en maatskaplike programme. Ramaphosa het gevra vir gemengde befondsing om belegging uit die privaat sektor te trek. Die president het ook die belangrikheid van internasionale ontwikkelingsfinansiering beklemtoon asook beloftes van die Ooreenkoms van Parys en COP26 as bronne vir kapitaal. De president het gepleit vir samewerking tussen die regering, die sakewêreld en gemeenskappe om ‘n toekoms vir Suid-Afrika te bou wat klimaatsveerkragtig en volhoubaar is:
# Die minister van vervoer, Barbara Creecy, sê haar eerste taak in die sewende administrasie is om die vervoerstelsel te stabiliseer en die departement geskik te maak om sy beleidmakings- en regulatoriese rol te vervul. Sy het gister die departement se begrotingspos gelewer. Die minister sê elke jaar is daar meer as tienduisend noodlottige ongelukke, wat byna drie persent van die jaarlikse bruto binnelandse produk beloop. Creecy het ook die departement se missie beklemtoon:
# Die LUR vir Onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, gaan ‘n roudiens bywoon in die Grace Bible Church, in Carletonville, vir elf leerders wat in ‘n tragiese ongeluk omgekom het. Die botsing, wat verlede week in die Kokosi-Wedela-gebied plaasgevind het, was tussen ‘n leerdervervoer-voertuig en ‘n bakkie. Die bakkie het die leerdervervoer getref en ontplof. Die bestuurder van die bakkie gaan na verwagting strafregtelik aangekla word. Ondersoeke duur voort terwyl oproepe om strenger regulasies vir leerdervervoer toeneem.
# Oudpresident Donald Trump se saak oor geklassifiseerde dokumente is deur ‘n regter in Florida van die hand gewys. Trump is daarvan beskuldig dat hy lêers by sy Mar-a-Lago-klub gehou het, insluitend in ‘n balsaal en ‘n stort, en dat hy vir ondersoekers gelieg het. In haar uitspraak sê distriksregter Aileen Cannon die vervolger in die saak, advokaat Jack Smith, is onregmatig aangestel en is nie bemagtig om die vervolging te lei nie. Trump sê hierdie uitspraak moet die eerste stap wees om ander strafregtelike sake teen hom af te wys.
# Rugby: Die veelsydige Springbok-agterspeler Sacha Feinberg-Mmgomezulu het gewys hy’s ‘n speler van gehalte tydens die naweek se teleurstellende nederlaag met ‘n enkele punt teen Ierland, waarmee die reeks gelykop geëindig het. Die 22-jarige is by die diepkant ingegooi toe Willie le Roux in die tweede minuut beseer is. Hy het op die bank begin in al drie vanjaar se toetse, maar meen hy was Saterdag al meer op sy gemak soos die wedstryd gevorder het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-752-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-420-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte: Vandag se PowerBall is weer net ‘n geraamde vyf-miljoen-rand nadat ‘n speler in Vrydag se trekking meer as 59-miljoen-rand gewen deur Standard Bank se banktoepassing te gebruik. Die persoon het die vyf nommers plus die PowerBall korrek gehad terwyl 20 deelnemers net meer as 35-duisend-800 gedeel het met vier korrekte nommers en die PowerBall. Vandag se PowerBall Plus sal sewe-miljoen-rand werd wees terwyl môre se Lotto-boerpot ‘n gelukkige wenner 69-miljoen-rand in die sak kan bring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….