Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig aandele in Bell Equipment het met 49-persent gestyg nadat die stigtersfamilie ‘n multimiljard-rand uitkoopvoorstel aan minderheidsaandeelhouers gemaak het. Die Bell-familie besit reeds 70-persent van die maatskappy wat sowat vyf-miljard-rand werd is.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ’n tydperk van rou vir oudpresident Donald Trump se ondersteuners is besig om ‘n triomfantlike week vir hom te word. Die verkiesing is volgens kenners besig om ‘n nuwe rigting in te neem wat Trump se kanse verbeter.
En tweedens skryf die koerant oor die Suid-Afrikaanse tennister Kgothatso Montjane wat gisteroggend met ’n gejuig op die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg verwelkom is.
# The Star en Pretoria News:
Skryf advokaat Dali Mpofu het erken die EFF het geld as skenking van VBS-bank ontvang, maar hy sê dit was ‘n skenking en daar was geen sprake van geldwassery, bedrog of korrupsie nie.
En tweedens word berig die polisie het 14 verdagtes in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van ‘n sakeman.
# Sowetan:
Berig die nuwe minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber sê hy gaan werkspermit-inspeksies verskerp by restaurante, plase en myne.
# En The Citizen:
Skryf daar lê nog ‘n moeilike pad voor vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens.
En berig tweedens ook oor die nuwe inisitief by die Departement van Binnelandse Sake
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met dieselfde hoofberig as Beeld oor Trump.
Tweedens berig die koerant die Vrystaatse LUR van Gesondheid, Viceroy Mahlatsi het ‘n dringende ondersoek aangevra nadat ‘n vierjarige kind by ‘n staatstandarts dood is.
En laastens is daar nuus oor die Bokke se kragmeting teen Portugal Saterdag. Die hulpafrigter, Deon Davids sê die Bokke skuld Bloemfontein ‘n wen.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met Trump. Die koerant haal die oudpresident aan wat sê hy moes dood gewees het. Daar word berig ‘n oorwinning vir Trump sal slegte nuus vir Suid-Afrika wees.
En tweedens skryf die koerant ‘n vier maande oue baba wat in haar pa se bakkie was toe dit in Khayelitsha gekaap is, is veilig teruggevind.
# En Cape Times:
Skryf die Nasionale Vervolgingsgesag sê daar is nuwe inligting wat opgevolg word oor die vermiste Joshlin Smith.
En tweedens word berig die verlenging van Koeberg 1 se permit met 20 jaar is uit verskeie oorde verwelkom.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Spesiale Ondersoekeenheid stel ondersoek in na ‘n multimiljoen-rand-tender vir straatligte wat die Nelson Mandelabaai-metro vier jaar gelede toegeken het.
En die koerant skryf die Benjamin Franklin-vraghouerskip het 44 vraghouers teen die Oos-Kaapse kus verloor toe dit afgeval het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die Zoeloe-koning Misuzulu kaZwelithini het ‘n beroep gedoen dat die raad van die Ingonyama-trust ontbind word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig meer as 1,05-miljoen buitelanders het in 2023 in Namibië aangeland. Dit is 95,4-persent meer as die vorige jaar en byna 82-persent hiervan was toeriste.
En tweedens het die koerant nuus oor ‘n man wat daarvan beskuldig word dat hy sy dogter verkrag het, haar swanger gemaak en haar toe gedwing het om ’n aborsie te kry.