Nuus 11:00
BULLETIN 9 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Musi Maimane waarsku teen die afwesigheid van ’n geloofwaardige opposisie in die Parlement
# Eskom begin met ladingvermindering in verskeie provinsies
# En Australië stel ‘n spesiale gesant vir anti-Semitisme aan
# Build One SA se leier, Mmusi Maimane, sê ‘n doeltreffende en beginselvaste opposisie moet altyd as patrioties gevier word en net so belangrik wees as diegene in die uitvoerende deel van die regering. Hy skryf in ʼn artikel vir Daily Maverick die nuwe bedeling beteken die rol van ʼn opbouende opposisie is noodsaaklik, want 70-persent van die Parlement is nou deel van die regering van nasionale eenheid. Maimane sê as hulle nie ʼn geloofwaardige opposisie skep nie, kan ʼn ander vorm van staatskaping ontstaan.
# Eskom het ladingsvermindering in verskeie provinsies begin instel waar die netwerk oorlaai is weens die koue weer. Die kragvoorsiener sê die oorlading van die netwerk kom veral in sy voorsieningsgebiede in Limpopo, die Wes- en die Oos-Kaap, Gauteng, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Noordwes voor. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, beklemtoon ladingsvermindering is nie dieselfde as beurtkrag nie, omdat Eskom wel genoeg opwekkingsvermoë het om in die vraag na elektrisiteit te voorsien:
# ActionSA in KwaZulu-Natal het die skorsing bevestig van twee lede in sy Newcastle-streek, Mzwakhe Mbatha en Sizwe Mokoena, onderhewig aan voortgesette ondersoeke en tugprosesse. Volgens die party se tussentydse grondwet moet alle lede hou by ‘n gedragskode, met oortredings wat verwys word na die etiek- en tugkomitee vir ondersoek en verhoor. Zwakele Mncwango van ActionSA sê hulle wil die saak vinnig oplos en enige skuldige aan die pen laat ry:
# Die Australiese eerste minister, Anthony Albanese, het ʼn spesiale gesant aangestel om anti-Semitisme te monitor en bekamp. Gemeenskapsgroepe het ʼn skerp toename in anti-Semitisme en Islamofobie opgemerk sedert Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober verlede jaar, en Israel se daaropvolgende aanvalle op Gaza. Albanese sê die regsgeleerde Jillian Segal sal met gemeenskapsleiers en diskriminasie-kenners beraadslaag om die regering raad te gee:
# Rugby: Engeland steur hulle nie aan Nieu-Seeland se briljante rekord in Auckland waar die tweede toets die naweek gespeel word nie. Die All Blacks het sedert 1994 nie op Eden Park verloor nie en sedertdien 49 wedstryde in die stadion gewen. Engeland het Saterdag in die eerste toets in Dunedin 15-16 teen die Kiwi’s verloor. Die Engelse slot Alex Coles sê hulle is bewus van die rekord, maar dit sal nie hulle voorbereiding veel raak nie. Hy glo hulle moet bloot beter by hulle wedstrydplan hou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-304-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-360-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….