Nuus 14:00
BULLETIN 6 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê koalisie-onderhandelings sal die belange van die mense voorop stel
# Saftu kritiseer die salarisverhoging vir staats-ampsdraers
# En, krieket: Indië se kolfafrigter sê die New Yorkse kolfblad was moeilik
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê koalisie-onderhandelings sal die belange van die mense voorop stel. Die party se nasionale uitvoerende komitee vergader vandag in Ekurhuleni, Gauteng, oor die vorming van ‘n regering. Intussen betoog bekommerde ANC-lede buite die vergaderplek teen ‘n moontlike koalisie met die DA. Mbalula ontken ‘n bestaande ooreenkoms met die DA en beklemtoon voortgesette samesprekings met verskeie partye:
# Die vakbondfederasie Saftu sê die salarisverhoging van 2,5-persent vir staats-ampsdraers is gelykstaande aan die finansiering van uitspattigheid. Die amptenare sluit in lede van die nasionale en provinsiale uitvoerende gesag, regters en parlementêre leiers. ‘n Woordvoerder van Saftu, Trevor Shaku, sê dit is betreurenswaardig dat die salarisverhogings vir sommige ampsdraers neerkom op die beloning vir mense wat die staat ondermyn met hulle onbevoegdheid, wanbestuur en korrupsie:
# Cosatu in die Oos-Kaap het sy steun en solidariteit uitgespreek met die slagoffers van die verwoestende oorstromings in dele van die provinsie. Die vloede het infrastruktuur erg beskadig. Mkhawuleli Maleki van Cosatu sê die federasie wil hê die regering moet ondersoek instel en met planne begin om klimaatsverandering teen te werk. Cosatu sê meer sulke gure weer-episodes lê voor as niks gedoen word aan klimaatsverandering nie.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Mexiko se eerste noodlottige menslike geval van H5N2-voëlgriep bevestig. Die 59-jarige pasiënt, met chroniese niersiekte, diabetes en hoë bloeddruk, het sover bekend geen blootstelling aan diere gehad nie. Die bron van die virus bly onduidelik, ondanks onlangse uitbrekings onder pluimvee in Michoacan en die staat Mexiko. Die land se Ministerie van Gesondheid het berig alle monsters van geïdentifiseerde kontakte het negatief getoets.
# Krieket: Die Indiese kolfafrigter, Vikram Rathour, weier om die Nassau County-krieketstadion in New York se kolfblad te kritiseer en sê dit is kolwers se verantwoordelikheid om by moeilike omstandighede aan te pas. Indië het Ierland gister met agt paaltjies verslaan in hulle openingswedstryd van die T20 Wêreldbekertoernooi. Die kolfblad is gekritiseer vir buitensporige naatbeweging en wip. Rathour sê hulle kan nie die blad verander nie en hulle fokus is dus daarop om wedstryde te wen:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-930-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-360-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….