Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beskermer bevind howe laat slagoffers van geslagsgeweld in die steek
# ‘n Taakspan stel ‘n register voor vir geslagsgeweld-oortreders by universiteite
# En krieket: Rahul Dravid bly nie aan as Indië se afrigter na die T20-Wêreldbekertoernooi nie
# Die Openbare Beskermer het bevind die Departement van Justisie ervaar ‘n gebrek aan maatreëls om slagoffers van geslagsgeweld te beskerm. Volgens Kholeka Gcaleka word die 38 howe wat ondersoek is, ondoeltreffend bestuur, sonder behoorlike beskermingsbevele met onopgeloste sake en ‘n toename in geslagsgeweldvoorvalle. Gcaleka het ook opgemerk swak liasseerstelsels en taalhindernisse dra by tot swak dienslewering. Sy vra beter bystand vir slagoffers wat beskermingsbevele aanvra:
‘n Ministeriële taakspan stel intussen voor ‘n register vir oortreders word opgestel wat rekord hou van die name van personeel en studente wat regoor die land skuldig bevind is aan geslagsgeweld by universiteite. Die taakspan is in Mei 2019 aangestel deur die voormalige minister van Onderwys, Naledi Pandor. Dit het ondersoek gedoen na maatreëls om te verseker oortreders ontduik nie die wet nie en herhaal nie oortredings by ander instellings nie. Die databasis sal instellings in staat stel om ‘n ingeligte besluit te neem wanneer ‘n kandidaat aangestel of ‘n student toegelaat word.
# Swaar reën in die Groter Oudtshoorn-omgewing het gevaarlike padtoestande veroorsaak, met verskeie paaie wat gesluit is weens oorstromings. Motoriste word versoek om versigtig te bestuur en laagwaterbrûe en oorstroomde gebiede te vermy. Meiringspoort en die Swartbergpas is gesluit, en rotsstortings is op die N12 tussen George en Oudtshoorn aangemeld. Die Kangogrotte is steeds oop, maar toegangspaaie is gevaarlik. Verdere ontwrigtende reën word verwag, en die publiek sal op hoogte gehou word van vloedskade en padtoestande.
# Die Stop the East African Crude Oil Pipeline Coalition versoek die regering van Tanzanië dringend om nie langer die polisie te gebruik om teenkanting teen die regering se omstrede pypleiding te probeer onderdruk nie. Dit volg nadat die polisie vier mense en ‘n gemeenskapsleier in die Hanag-distrik aangehou het omdat hulle met die media oor die pypleiding, swak vergoeding en intimidasietaktiek gepraat het. Die koördineerder van die veldtog, Zaki Mamdoo, versoek die regering om die teistering te staak en vra China en Frankryk om gepaardgaande ongeregtighede te ondersoek:
# Krieket: Rahul Dravid het bekendgemaak hy tree na die huidige T20-Wêreldbekertoernooi uit as hoofafrigter van Indië. Die voormalige internasionale kolwer gaan nie weer aansoek doen vir die pos wat die beheerliggaam verlede maand geadverteer het nie. Die 51-jarige Dravid het Indië verlede jaar tot die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap en van die eendag-Wêreldbekertoernooi gevoer, wat hulle albei teen Australië verloor het. Sy land het sedert 2013 nog geen internasionale toernooi gewen nie. Indië se T20 Wêreldbeker-veldtog begin môre teen Ierland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-45-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-317-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….