Goeie Nuus
BULLETIN 3 Junie
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van Johannesburg sê nie eens ‘n fisieke gestremdheid kon Hester Visagie keer om haar doelwitte te bereik nie. Die 58-jarige het onlangs haar doktorsgraad in Verpleegkunde verwerf. Visagie was enkele maande ná die Covid-19-pandemie in ‘n motorongeluk betrokke en het ‘n ruggraatbesering opgedoen wat chirurgie vereis. Komplikasies het haar fisiek gestremd gelaat, en die gebruik van ‘n voetstut en kruk genoodsaak. Professor Annie Temane van die UJ sê Visagie was gemotiveerd, passievol en leergierig, het ook oor selfdissipline beskik, en was daarom suksesvol.
# Juniemaand is Nasionale Omgewingsmaand en Bay Harbour Market-handelaars is verbind tot volhoubare sakepraktyke. LEZA se stigter is die ontwerper, Jodi Leza Thurtell, wat tekstiel-afval herwin en in mode verander. In Kaapstad se stortingsterreine word 70-duisend ton tekstiel-afval jaarliks gestort. Thurtell sê volhoubaarheid begin met opvoeding en bewustheid wat noodsaaklike stappe na ‘n groener toekoms is. Nog ʼn handelaar, Dante Bazzea, het Peaches Skateboarding gestig. Hy ontwerp en druk sy werk plaaslik terwyl hy ook skaatsplanke van plaaslik vervaardigde handelsmerke verkoop.
# Die legendariese saksofoonspeler, McCoy Mrubata, het die afgelope naweek sy eerste tuiskomskonsert by The Star Theatre in Distrik Ses, in Kaapstad gehad. Die konsert, wat deur die Kaapstadse Musiekakademie aangebied word, sluit sy Amerikaanse kitaarspeler, Gary Wittner in en twee van Kaapstad se beste musikante, Sibusiso Matsimela op bas en die tromspeler Tefo Mohola. Mrubata se musiekloopbaan strek oor ses dekades en hy het 20 albums die lig laat sien. Sy laaste konsert vind Donderdag plaas by Café Roux in Noordhoek. Die titel van sy jongste album is Lullaby for Khayoyo.
# Die 93-jarige mediamagnaat en miljardêr, Rupert Murdoch, is die vyfde keer getroud. Hy en die 67-jarige afgetrede Russiese bioloog, Elena Zhukova, het in Kalifornië afgehaak. Hulle het by ʼn partytjie ontmoet wat een van Murdoch se eksvroue, die Chinees-gebore entrepreneur Wendi Deng, gehou het. Murdoch se New York-gebaseerde maatskappy, News Corp, besit honderde plaaslike, nasionale en internasionale digitale nuusplatforms, insluitend die Wall Street Journal, Fox News en Sky News Australia. Hy het verlede jaar ná sewe dekades afgetree as voorsitter van Fox en News Corp.
# En, ‘n battery-aangedrewe lepel wat kos souter laat smaak, is in Japan te koop. Die lepel is bedoel vir mense wat hulle soutinname wil verlaag. In Japan verbruik volwassenes gemiddeld ongeveer 10-gram sout per dag, wat dubbel die aanbevole inname is. Die lepel werk deur ‘n swak elektriese stroom deur die punt van die toestel te stuur, wat natrium-ioon-molekules op die tong konsentreer. Dit laat kos een-en-‘n-half keer souter smaak. Gebruikers kan ook besluit hoe sout hulle kos moet smaak, deur een van vier vlakke van intensiteit te kies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….