Nuus 13:00
BULLETIN 3 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die FW de Klerk-stigting vra die samestelling van ‘n regering van nasionale eenheid
# Die DA in KwaZulu-Natal verwerp die moontlikheid van koalisies met die MK en die EFF
# En, rugby: Daar is twyfel oor Marco van Staden se beskikbaarheid vir die Bulle vir die VRK-kwarteindstryd
# Die FW de Klerk-stigting doen ‘n oproep vir die samestelling van ‘n regering van nasionale eenheid. Dit volg nadat die ANC nie daarin kon slaag om ‘n meerderheid te verseker in vanjaar se verkiesing nie, wat beteken dat hy ‘n koalisieregering sal moet vorm. Die stigting se direkteur, Christo van der Rheede, het aan eNCA gesê die regering behoort politieke partye in te sluit wat die Grondwet steun en verbind is tot die Handves van Regte:
Die DA in KwaZulu-Natal het vroeër die moontlikheid van koalisies met die MK-party en die EFF verwerp. Die provinsiale voorsitter, Dean Macpherson, sê hulle sal koalisiesameprekings voer, maar nooit met die EFF en MK nie omdat hulle beleid nie ooreenstem nie:
# ‘n Ouditeur van die Gautrein is op spesiale verlof geplaas nadat hy aangekla is van aanranding op sy dogter. Die aanklag is aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die man, wat tans uit is op borgtog van twee-duisend-rand, het na bewering sy 18-jarige dogter aangerand tot sy haar bewussyn verloor het omdat sy ʼn verjaarsdagpartytjie sonder sy toestemming bygewoon het. Die Gautreinse Bestuursagentskap sê hy veroordeel enige vorm van geweld en mishandeling en laat die reg toe om sy verloop te neem.
# Claudia Sheinbaum is in ʼn geskiedkundige weghol-oorwinning verkies tot Mexiko se eerste vroulike president. Voorlopige uitslae toon die 61-jarige gewese burgemeester van Mexikostad het tussen 58- en 60-persent van die stemme in gister se verkiesing gekry. Dit gee haar ʼn voorsprong van byna 30 persentasiepunte bo haar grootste teenstander. Sheinbaum sal haar mentor, uitgaande president Andrés Manuel López Obrador, op 1 Oktober vervang. Sheinbaum, ʼn gewese energiewetenskaplike, het kontinuïteit beloof en sê sy sal voortbou op die vordering wat Obrador gemaak het.
# Rugby: Twyfel bestaan of die Wêreldbeker-ster Marco van Staden vir die Bulle beskikbaar gaan wees vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen die Italiaanse span Benetton in Pretoria. Hy is beseer tydens Saterdag se sege van 26-14 oor die Haaie in Durban. Van Staden het eers onlangs teruggekeer na die speelveld nadat hy vroeër ’n ligamentbesering opgedoen het. Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, sê hulle het ‘n paar moontlikhede:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-922-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-326-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….