Nuus 09:00
BULLETIN 28 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party beweer daar is ’n voortdurende en sistematiese vervolging van Zuma
# AfriForum lei waarnemers op vir verkiesingsmonitering
# En Pous Franciskus word daarvan beskuldig dat hy ‘n homofobiese belediging in ‘n geslote vergadering gebruik het
# Die MK-party sê die reeks aksies teen sy leier, Jacob Zuma, toon politieke vooroordeel en manipulering deur staats- en privaatinstellings, insluitend die media. Dit volg nadat die SABC en eNCA besluit het om nie ‘n onderhoud met Zuma uit te saai nie. Die openbare uitsaaier sê die onderhoud herhaal bloot wat Zuma by ʼn saamtrek gesê het. eNCA sê hy het ʼn redaksionele besluit geneem dat dit te na aan die verkiesing is om die onderhoud uit te saai. MK sê Zuma word voortdurend en stelselmatig vervolg.
# AfriForum het bevestig sy 134 waarnemers en 170 buurtwagte is gereed vir die verkiesingstydperk. Die woordvoerder van Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, sê hulle sal stemlokale fyn dophou en op ‘n hoë gereedheidsgrondslag bly vir moontlike geweld. Broodryk sê AfriForum se lugvleuel, met meer as 40 hommeltuie, is ook op bystand om regstreekse inligting in te samel en verdagtes op te spoor:
# Die metaalwerkersvakbond, Numsa, betoog vandag in Meyerton, Gauteng, buite die kantoor van SA Steel Mills, wat as Alfeco Holdings handeldryf. Dit volg nadat die staalvervaardiger 165 werkers afgedank het nadat hulle deelgeneem het aan ʼn staking wat volgens die Arbeidshof wettig was. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die maatskappy val werkers se grondwetlike reg om te staak aan:
# Pous Franciskus word beskuldig dat hy verlede week in Rome tydens ʼn privaat vergadering met biskoppe ʼn beledigende woord gebruik het. Italiaanse koerante berig die 87-jarige pous het glo die biskoppe aangesê om nie gay mans toe te laat om as priesters opgelei te word nie, en ʼn hoogs beledigende woord gebruik. Sy opmerkings is gemaak tydens biskoppe se voorstelle om riglyne te wysig vir kandidate wat by kweekskole toegelaat word. Die koerante sê die pous was moontlik nie bewus hoe beledigend dit was nie omdat Italiaans sy tweede taal is.
# Sokker: Cristiano Ronaldo van die Al-Nassr-klub het die Saoedi-liga se rekord vir die meeste doele in een seisoen verbeter. Die 39-jarige doelskopper van Portugal het twee doele aangeteken in sy span se oorwinning van vier-twee oor Al Ittihad vir ‘n totaal van 35 doele in die liga dié seisoen. Dit is een meer as die vorige rekord van Abderrazak Hamdallah in die 2018-2019-seisoen. Ronaldo het nou 64 doele aangeteken in die 69 wedstryde wat hy vir Al-Nassr gespeel het sedert hy in Januarie verlede jaar van Manchester United oorgeskuif het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-538-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-351-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….