Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Mei
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Van Ryn se 15-jaar-oue potketelbrandewyn is die tweede agtereenvolgende jaar aangewys as die wêreld se beste wynbrandewyn op die 2024 Wêrelddranktoekennings. Dit is die vierde keer in vyf jaar dat Van Ryn die gesogte titel inpalm. Die brandewyn, wat in Franse eikehoutvate verouder is, bied ‘n grasieuse profiel met geure van drop, toffie en steenvrugte. Die versnitmeester, Marlene Bester, prys die span se toewyding en nooi geesdriftiges uit om hulle reeks aanlyn of by die distilleerdery in Stellenbosch te ontdek.
# Franschhoek se La Petite Colombe en die Stellenbosch-gebaseerde sjef, Callan Austin, was onder die wenners op die Luxe-restauranttoekennings. Die toekennings vier Suid-Afrika se beste kos-, gasvryheid- en leefstyl-talent. La Petite Colombe is aangewys as Restaurant van die Jaar, terwyl Austin as Sjef van die Jaar bekroon is. Ander wenners sluit in die Opkomende Kulinêre Ster-toekenning aan Matt van den Berg, The Table by De Meye in Stellenbosch wat Gesinsrestaurant van die Jaar is, en sjef James Gaag wat die Baanbrekertoekenning ontvang het.
# Die publiek het tot Sondag kans om die Pretoriase Kunsmuseum gratis te besoek as deel van sy 60ste verjaarsdag. Die museum het sy deure in 1964 geopen en bied ‘n ryke geskiedkundige oorsig van die Stad Tshwane se kunsversameling wat tot die vroeë 1930s terugdateer. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskaps- en Maatskaplike Ontwikkelingsdienste. Nasiphi Moya, sê as ‘n erfenisgebou, huisves die museum meer as twee-duisend erfenisvoorwerpe wat tussen 100 en 300 jaar oud is.
# Die ster van Avengers en Thor, Chris Hemsworth, het sy ster op die Hollywood Walk of Fame ontvang. Die Australiër is die twee-duisend-781ste persoon om ‘n ster te ontvang. Van die ses Marvel and Global Avengers franchise-rolprente is Avengers: Endgame steeds een van die grootste lokettreffers. Hemsworth se mede-ster in Avengers, Robert Downey Junior, beskryf hom as ‘n insigvolle, briljante en merkwaardige persoon. Hemsworth sê om ‘n ster te ontvang is ‘n droom wat waar geword het:
# En ten slotte: Die Rock n Roll-musieklegende, Bruce Springsteen, is in die Ivor’s Academy-genootskap opgeneem tydens die Ivor Novello-toekennings in Londen. Hy is slegs die 27ste persoon om die eretoekenning te ontvang en hy sluit hom aan by mense soos Elton John, Joan Armatrading, John Barry, Kate Bush en Paul McCartney. Springsteen het meer as 140-miljoen plate verkoop, en ‘n Oscar en 20 Grammy-toekennings verower. Sy beroemde treffers sluit in Born to Run, Thunder Road, Hungry Heart en Born in the USA.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….