Nuus 14:00
BULLETIN 9 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse regter Navi Pillay bekroon met die 2026 Nobelprys vir Vrede
# Die VF Plus verwelkom die hofuitspraak oor die ekonomiese bemagtigingskode in die regsektor
# En: Rod Stewart kondig sy laaste toer aan ná meer as 60 jaar
# Die Suid-Afrikaansgebore regsgeleerde Navi Pillay is met die 2026 Nobelprys vir Vrede bekroon vir haar pogings om vrede, menseregte en internasionale reg te bevorder. Pillay, wat tydens apartheid in Durban, KwaZulu-Natal, gebore is, het as Suid-Afrikaanse en internasionale regter gedien, asook as hoof van menseregte by die Verenigde Nasies. Jorgen Watne Frydnes van die Nobelkomitee sê Pillay se werk beklemtoon die belangrikheid van geregtigheid en die oppergesag van die reg in die bou van blywende vrede:
# ActionSA verwelkom die terugtrekking van Binnelandse Sake se riglyn oor asielaansoeke deur ongedokumenteerde immigrante wat onwettig die land binnegekom het. Die party se woordvoerder, Matthew George, kritiseer die regering van nasionale eenheid omdat daar, volgens hom, versuim is om immigrasie-uitdagings doeltreffend aan te spreek. George versoek dringende hervormings om grensbeheer en wetstoepassing te versterk, en die oppergesag van die reg te herstel. Hy dring aan dat die belange van Suid-Afrikaanse burgers eerste moet kom:
# Die Vryheidsfront Plus verwelkom die Hooggeregshof in Pretoria se tersydestelling van die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, se besluit om die ekonomiese bemagtigingskode vir die regsektor in werking te stel. Die party se woordvoerder Jaco Mulder, sê die uitspraak bevestig die beginsel dat ministers wettige vereistes onafhanklik moet oorweeg en beduidende afwykings van die algemene ekonomiese bemagtigingskodes moet kan regverdig. Die hofuitspraak verklaar dit nie onwettig nie, maar beklemtoon ministers moet hul statutêre bevoegdhede behoorlik uitoefen. Die kode het vereistes gestel oor eienaarskap, bestuur, vaardigheidsontwikkeling en verkryging in die regsberoep:
# Gholf: Min Woo Lee van Australië is kort op die hakke van die voorlopers in die Baycurrent Classic in Japan nadat hy het met ‘n vyf-onder-baansyfer 67 geopen het. Die 28-jarige is deel van die groep voorlopers op die punteleer op die Yokohama-buiteklub. Die Amerikaner, Jacob Bridgeman is heel voor nadat hy ‘n skitterende agt-onder-baansyfer 63 aangeteken het, met Jordan Smith van Engeland slegs een hou agter hom. Die verdedigende kampioen, Xander Schauffele, is ook in die wedloop. Die toernooi eindig Sondag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 18-rand-53-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-456-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-180-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-70-sent per vat.
# En ten slotte: Die Britse legende Sir Rod Stewart berei hom voor om ná langer as ses dekades op te hou toer. Die 81-jarige se afskeidstoer, The Final Encore, begin in April volgende jaar in Dublin en sluit konserte regoor Brittanje en Europa in. Stewart sê dit sal sy laaste regstreekse toer wees, maar hy tree nie heeltemal uit die musiekbedryf nie. Hy beplan om aan te hou opnames maak en mag dalk steeds van tyd tot tyd optree. Die aankondiging volg ná gesondheidsprobleme, insluitend ‘n hartprosedure vroeër vanjaar, wat hom gedwing het om vertonings te kanselleer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….