Nuus 09:00
BULLETIN 10 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal in die George gebou-ramp styg tot nege
# Die DA kritiseer die SABC omdat hy sy verkiesingsadvertensie verbied
# En Trump se tweede versoek dat sy swyggeld-saak uitgegooi word misluk
# Die George-munisipaliteit sê ‘n konstruksiewerker wat in die hospitaal opgeneem is nadat ʼn gebou Maandag in dié dorp ingetuimel het, is dood. Dit bring die sterftesyfer nou op nege te staan. Die reddingsoperasie duur reeds 88 uur en kenners sê die oorlewingskoers van die 44 werkers wat steeds onder puin vasgekeer is, het tot sowat 33-persent gedaal. Die munisipaliteit se woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, sê die reddingspoging is nou in ʼn kritieke stadium:
Die George Munisipaliteit het intussen die bankbesonderhede bekendgemaak van ‘n spesiale Munisipale Hulp- en Liefdadigheidsfonds. Dit volg ná versoeke vanaf die publiek en organisasies met betrekking tot finansiële skenkings vir die gesinne wat Maandag geraak is weens die ineenstorting van ‘n gebou. Volgens die Munisipaliteit het ander individue en organisasies ook bankrekeningbesonderhede vir ‘n soortgelyke doel uitgereik. Die Munisipaliteit versoek egter die publiek om hulself te vergewis van die korrekte besonderhede vir die amptelike fonds. Skenkings kan gemaak word aan die Relief and Charitable Fund, ABSA BANK, Tjekrekeningnommer 91-49-55-42-08.
# Die DA-leier John Steenhuisen het die SABC gekritiseer omdat hy die party se verkiesingsadvertensie onttrek het en sê hulle prokureurs gaan die kwessie verder neem. Die openbare uitsaaier weier om die DA se omstrede advertensie waarin die Suid-Afrikaanse vlag verbrand word, in sy huidige vorm uit te saai. Hy voer aan die advertensie moedig mense aan om gewaardeerde nasionale simbole te beskadig. Steenhuisen sê die skaamtelose sensuur is ʼn ongekende aanval op demokrasie:
# Die regter in Donald Trump se hofsaak oor swyggeld het die oudpresident se tweede versoek dat die saak geskrap word, van die hand gewys. Sy prokureurs het gister hul aanval op die gewese porno-ster, Stormy Daniels, se geloofwaardigheid voortgesit. Hulle beskuldig haar dat sy die storie van ʼn seksuele voorval met Trump, en dat sy betaal is om stil te bly, versin het. Regter Juan Merchan sê Trump se prokureurs moet die skuld kry dat Daniels intieme besonderhede oor die voorval in 2006 beskryf. Die oudpresident ontken al Daniels se bewerings.
# Krieket: Die Royal Challengers Bengaluru hoop steeds om die Indiese Premierliga-uitspeelrondes te haal, nadat hulle ‘n oortuigende oorwinning van 60-lopies oor die Punjab Kings behaal het. Virat Kohli, met 92, het ‘n puik vertoning gelewer met die kolf, met die Challengers wat 241-vir-sewe aangeteken het in hul 20 boulbeurte. In antwoord daarop het Mohammed Siraj drie paaltjies geneem en Punjab vir 181 uitgeboul. Royal Challengers Bengaluru se kaptein, Faf du Plessis, sê die span se vertoning die afgelope paar wedstryde was indrukwekkend:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-926-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-354-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….