Goeie Nuus
BULLETIN 9 Mei
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Student van die Universiteit van Pretoria, Nicholas Joubert, het binne vyf jaar drie grade voltooi en gelyktydig ‘n musiekloopbaan gebou en ‘n enkelsnit vrygestel. Die 28-jarige het onlangs ‘n meestersgraad in Strategiese Bestuur behaal. Hy het ook onderskeidelik in 2020 en ’22 grade in Sakebestuur en Kommunikasiebestuur behaal. Joubert se debuutliedjie, Someone New, is op die trefferlys van Suid-Afrikaanse radiostasies en selfs op speellyste in Brittanje en Australië. Hy sê ondanks sy toenemende gewildheid as musikant is hy vasberade om sy akademiese kwalifikasies uit te bou.
# Die Universiteit van Johannesburg het die UJ-gestremdheidsforum bekendgestel wat die unieke behoeftes van studente en personeel aanpak. Die universiteit sê die forum is ‘n platform om eerstehands kennis te neem van uitdagings soos die wyse waarop gestremdes by die instelling onderskat word. Hy sê die forum dui op die instelling se verbintenis om struikelblokke te verwyder en ‘n ruimte te skep waar almal hul volle potensiaal kan bereik.
# Die Kloof- en Highway-dierebeskermingsvereniging in die Wes-Kaap se bedryfsbestuurder, Sarah van Heerden, het 120-duisend-rand vir dierewelsyn ingesamel. Sy het haar voorneme om een-duisend-600 kilometer af te lê, suksesvol voltooi. Van Heerden het in Wellington weggespring en sewe dae lank deur 53 bergpasse en terug gery. Sy sê die fondse kan ʼn wesenlike verskil aan die DBV se dienste maak. Hulle kan onder andere nou hul eie uitreik-kliniek bekostig.
# Disney en Warner Bros. Discovery span saam om ʼn nuwe stromingsbundel te bied wat uit Disney Plus, Hulu en Max bestaan, en wat later vanjaar aan klante in Amerika beskikbaar sal wees. Die stap kom terwyl Disney en Warner Bros mededinging in die gesig staar van teenstanders soos Netflix en Amazon Prime Video. Disney Entertainment se woordvoerder, Joe Earley, sê hierdie ongelooflike nuwe vennootskap plaas intekenaars eerste en gee hulle toegang tot trefferflieks en drie videoteke met die beste handelsmerke en stroming-vermaak wat vandag beskikbaar is.
# En, ʼn Britse babameisie van 18 maande is die eerste persoon in die wêreld om deel te wees van ʼn gene-terapie-proefneming wat haar gehoor herstel het. Opal Sandy is heeltemal doof gebore weens ouditiewe neuropatie. Dié toestand veroorsaak dat senu-impulse tussen die binne-oor en die brein ontwrig word. Opal is in September geopereer waartydens ʼn aftreksel van die geen in haar regteroor geplaas is. Haar ouers het ná vier weke ʼn verbetering in haar gehoor opgemerk en haar gehoor is tans byna 100-persent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….