Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Australiese myngroep BHP sê sy bod vir Anglo American weerspieël nie ‘n negatiewe siening oor Suid-Afrika nie. Hy sê die land word nie as ‘n swak beleggingsbestemming gesien nie.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa is die volgende ANC-hooggeplaaste in die Nasionale Vervolgingsgesag se visier. ‘n Klagstaat oor beweerde geldwassery en korrupsie word glo voorberei.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens oor die probleem van gegradueerdes wat werkloos is. Tien-persent van diegene wat vanjaar ‘n graad ontvang het, sit volgens Statistieke Suid-Afrika sonder werk.
Dan skryf die koerant oor die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus se eredoktorsgraad in afrigtingskunde wat hy van die Noordwes-Univesiteit ontvang het.
En laastens is daar ‘n brok oor die 21-duisend-163 gevangenes wat vanjaar geregistreer het om in die verkiesing te stem.
# The Star en Pretoria News:
Skryf dit is bevestig die tonnelbrand wat in Johannesburg ontstaan het, is die werk van kabeldiewe.
En berig universiteite in Suid-Afrika word sowat 5,8-miljard-rand geskuld.
# En Sowetan:
Berig die eienaar van Laphinda Cleaning and Security Services, Khamanyana Baloyi sê hy kon nie die informele strukture vir die Johannesburgse brandslagoffers gratis oprig nie. Die maatskappy het 4,2-miljoen-rand ontvang vir wat bestempel word as swak vakmanskap.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die polisie in Ladybrand is op soek na ‘n bende plaasaanvallers nadat die 66-jarige Flavio Canei en sy 65-jarige vrou Suriet aangerand en beroof is. Die egpaar se bakkie, vuurwapens en ander toerustig is gesteel.
En tweedens is daar nuus oor twee koerantredakteurs van die Vrystaat wat op dieselfde dag in afsonderlike voorvalle beseer is toe hulle geval het. Lientjie Mentz het in die Drakensberg geval en Jens Friis op ‘n koppie in Philippolis.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die moord op die 77-jarige Joe Camacho van Vredenburg. Sy liggaam is aangetref op die kleinhoewe waar hy met varke boer.
Tweedens word berig een van die twee mans wat betrek word by die geslagsgeweldsvoorval by die Universiteit Stellenbosch se Metanoia-koshuis was dalk vroeër by ‘n soortgelyke voorval betrokke.
En laastens is daar nuus oor die Alfred Nzo-distriksmunisipaliteit waar kuberkrakers pornografie op sy webblad geplaas het.
# En Cape Times:
Skryf ook oor universiteite wat miljarde rand verskuldig is en berig oor Jacob Zuma se voorgenome verskyning voor die ANC se tugkomitee.
En dan is daar natuurlik ook nuus oor Kaapstad se Jazz-fees.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar is vrae oor Transnet se mangaanterminaal by die Port Elizabeth-hawe. Die terminaal se lisensie het glo ‘n maand gelede verval.
En tweedens het die koerant nuus oor suster Phumla Mquku wat na 35 jaar aftree by die Provinsiale Hospitaal se pediatriese kankereenheid.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf al die opposisiepartye en die inwoners is gekant teen die voorgestelde tariefverhogings in eThekwini.
Die koerant berig op sy voorblad ook oor die skuld aan universiteite en die Jazz-fees.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die eerste vragmotor is met Namibies-vervaardigde groenwaterstofbrandstof gevul by die Cleanergy Solutions Namibia H2-diensstasie buite Walvisbaai.
Tweedens skryf die koerant die minister van Stedelike en Landelike Ontwikkeling, Utoni Nujoma het plaaslike owerhede gewaarsku teen die gebruik van derde partye om geld vir munisipale rekenings in te samel.
En laastens is daar nuus oor die privaatskolenaweek van die Namibiese Privaatskole-organisasie.