Nuus 09:00
BULLETIN 29 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê BHP se aanbod vir Anglo American is ‘n klap in die gesig vir die ANC se mynbeleid
# Die Departement van Gesondheid sê die seisoen vir respiratoriese siektes het aangebreek
# En Fikile Mbalula is optimisties dat die ANC gaan wen in die Wes-Kaap
# Die DA sê BHP se aanbod om Anglo American te koop, wys hoe die ANC-regering Suid-Afrika se mynbedryf verswak het. Die Australiese mynreus het aangebied om Anglo America teen 740-miljard-rand oor te neem. Anglo American het die aanbod verwerp en beskryf dit as ‘n opportunistiese voorstel wat die maatskappy se waarde heeltemal onderskat. James Lorimer van die DA sê BHP se houding weerspieël hoe mynmaatskappye en mynbeleggers wêreldwyd meen die ANC maak dit uiters moeilik om in die land sake te doen:
# Die Departement van Gesondheid sê die respiratoriese sinsitiale virus of RSV bereik tans ʼn hoogtepunt in die land terwyl griep-gevalle begin toeneem met die naderende winter. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die virus veroorsaak veral siektes in jong kinders, maar dra ook by tot asemhalingsiektes onder ouer mense. Hy moedig mense aan om hulle teen griep te laat inent:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, meen die ANC kán die DA in volgende maand se algemene verkiesing uit die kussings lig in die Wes-Kaap. Hy het die naweek in Kaapstad se grootste township, Khayelitsha, en in Worcester en die Paarl in die Boland sy verkiesingsveldtog voortgesit. In 2019 het die ANC slegs 28-persent van die stemme verower nadat hy in 2009 beheer daaroor verloor het. Mbalula sê die ANC wil ‘n volstrekte meerderheid hê:
# Die World Central Kitchen sê hy gaan voedselverspreiding in Gaza hervat omdat die humanitêre situasie haglik bly. Die organisasie het sy bedrywighede vroeër die maand gestaak nadat sewe van sy werkers dood is toe hulle konvooi deur ʼn Israelse hommeltuig aangeval is. Die World Central Kitchen sê hy het 276 vragmotors met agt-miljoen maaltye gereed om die gebied deur die Rafah-kruising binne te gaan. Hy voeg by sy werk in Gaza het die meeste lewens gered in sy 14-jarige bestaan.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, is deur na die laaste 16 van die Madrid Ope, in sy stryd om die titel vir ‘n rekord derde agtereenvolgende jaar te wen. Die Spanjaard het Thiago Seyboth Wild van Brasilië met 6-3, 6-3 verslaan en kom nou teen die 23ste gekeurde Jan-Lennard Struff van Duitsland te staan, teen wie hy in verlede jaar se eindstryd gespeel het. Die Amerikaner Taylor Fritz is vir die tweede agtereenvolgende jaar deur na die Madrid Ope se vierde ronde ná ‘n oorwinning van 6-2, 6-3 oor Sebastian Baez van Argentinië. Daar was ook oorwinnings vir die Rus, Andrey Rublev en die Pool, Hubert Hurkacz.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-498-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-330-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….