Nuus 08:00
BULLETIN 27 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa lei die Vryheidsdagvierings by die Uniegebou
# Eskom se Opwekkingsherstelplan lewer belowende resultate
# En, rugby: Werner Kok blink uit met ‘n driekuns vir die Haaie
# President Cyril Ramaphosa lei vandag die nasionale Vryheidsdagvierings by die Uniegebou in Pretoria, vir die 30ste herdenking van Suid-Afrika se demokratiese bedeling. Die geleentheid val saam met die 28ste herdenking van die inwerkingtreding van die Grondwet. Die mikpunt met die herdenking is om begrip te verdiep van Suid-Afrika se geskiedenis, om dialoog oor die land se grondwetlike reis te bevorder, en om die regering, belanghebbendes en vennote te verenig in die viering van demokratiese vooruitgang. Die geleentheid gaan die 29 Mei-verkiesing vooraf, en beklemtoon burgerlike betrokkenheid en demokratiese ontwikkeling.
En Rise Mzansi vier vandag die 30ste herdenking van Vryheidsdag in Soweto. Die struggle-veteraan, Seth Mazibuko, en andere sluit aan by die partyleier, Songezo Zibi, vir ‘n vryheidsoptog deur belangrike geskiedkundige strate. Mazibuko is een van die mees prominente leiers van die 16 Junie 1976 Soweto-opstand. Rise Mzansi se woordvoerder, Mabine Seabe, sê die stap simboliseer die voortdurende stryd vir demokrasie en beklemtoon die behoefte aan vooruitgang:
# Eskom se uitvoerende hoof vir Opwekking, Bheki Nxumalo, het aansienlike verbeterings in aanlegprestasie rapporteer, danksy die opwekkingsherstelplan. Nxumalo het die media ingelig oor die stand van Eskom se kragstelsel- en -netwerk, en die vooruitsigte vir die winter, en het ook die beveiliging van kragstasies soos Medupi, Lethabi, Matimba en piekstasies beklemtoon. Hy sê prioriteit-kragstasies, insluitend Tutuka, Duvha, Majuba, Matla, Kendal, Arnot, Kriel en Koeberg, bly die hooffokus:
# Rugby: Werner Kok het sy 50ste verskyning vir die Haaie met ‘n driekuns teen Scarlets in Wallis gevier. Hulle het die Walliesers gisteraand met 32-27 in die Verenigde Rugbykampioenskappe geklop. Die Bulle sal na verwagting vanmiddag ‘n opdraande stryd op Loftus hê wanneer hulle die Ospreys pak. Die Leeus kom in Johannesburg teen Munster te staan. En wanneer die Stormers vanmiddag in Kaapstad Leinster die stryd aansê, sal die stut Brok Harris die eerste speler wees wat 150 keer vir sy span in die VRK op die veld draf.
# En om mee af te sluit: Vroulike ingenieurstudente van Limpopo, Noordwes en die Vrystaat gaan na Indië reis vir ‘n leerprogram oor sonpaneel-vervaardiging en -installasie. Dié inisiatief, onder leiding van die minister in die Presidensie belas met Vroue, die Jeug en Mense met Gestremdhede, Nkosazana Dlamini-Zuma, en die Energie- en Watersektor Onderwys-opleidingsowerheid, wil landelike energiekrisisse aanspreek. Die woordvoerder, Cassius Selala, sê met hul terugkeer sal die studente bemagtig wees om sonkragbesighede te begin, en hulle pogings sal gesteun word deur verskeie staatsdepartemente.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….