Goeie Nuus
BULLETIN 25 April
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Stad Kaapstad sê hy het sy eie trop seekoeie wat sedert 1981 in die Rondevlei-gedeelte van die Valsbaaise natuurreservaat gevestig is. Dié groepie seekoeie het oor die afgelope vier dekades ‘n kritieke en baie spesiale deel van die vleiland-ekologie geword. Die burgemeesterskomiteelid vir Ruimtelike Beplanning en die Omgewing, Eddie Andrews, sê in die natuur bestaan seekoei-troppe uit ongeveer tien tot 15 diere, met ‘n dominante bul en koeie met kalwers:
Ons bly in die Moederstad: Die Stad Kaapstad se Gemeenskaps-, Kuns- en Kultuurontwikkelingsdepartement bied jaarliks ’n uitstalling aan van werke deur opkomende kunstenaars. Die uitstalling, wat tot volgende week Vrydag duur, word by The Lab in Woodstock aangebied. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê vanjaar se tema is Abantu Abasha wat beteken, ‘n nuwe geslag. Sy sê dit het kunstenaars inspireer om die betekenis en siening van selfontdekking deur hul kunsvorm te verken:
# Die Universiteit van die Witwatersrand sê die werwingsprogram vir gegradueerdes, wat dialoog tussen die akademie en die bedryf vergemaklik, dra by tot die ontwikkeling van hoogsgeskoolde en indiensneembare gegradueerdes. Die universiteit het onlangs die jaarlikse werwings-ontbyt aangebied, wat deur meer as 200 studente en ‘n rekord-opkoms van 79 maatskappye bygewoon is. Die visekanselier, professor Zeblon Vilakazi, sê die universiteit is daartoe verbind om gegradueerdes, wat leiers met integriteit is, se saak te bevorder.
# Een van die laaste werke van die Oostenrykse skilder Gustav Klimt, Portret van Fräulein Liezer, is vir sowat 615-miljoen-rand verkoop op ‘n veiling in Wene. Die skildery is lank as verlore bestempel, maar dit het onlangs aan die lig gekom dat dit in’n Oostenrykse burger se privaat besit was. Daar word geglo dat die skildery een van die dogters van die broers Adolf óf Justus Liezer uitbeeld, wat uit ‘n ryk familie van Joodse nyweraars gekom het. Die im Kinsky-afslaers sê die skildery is een van die mooistes uit Klimt se laaste skeppende tydperk.
# En, Taylor Swift se jongste album, The Tortured Poets Department, het geskiedenis gemaak op Spotify. Dit het die eerste album in die geskiedenis van die toepassing geword wat ‘n miljard stromings binne ‘n enkele week gehad het. Die enkelsnit Fortnight met Post Malone het op die eerste dag van vrystelling, die mees gestroomde liedjie binne ‘n enkele dag in Spotify se geskiedenis geword. Die album het reeds die topverkoper plaatvrystelling in die moderne era geword. Daar is 700-duisend kopieë in die drie dae verkoop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….