Nuus 14:00
BULLETIN 10 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nosiviwe Mapisa-Nqakula se korrupsiesaak is uitgestel weens swak gesondheid
# Die Reserwebank sê die drie-persent-inflasieteiken kan ekonomiese skokke weerstaan
# En rugby: Etzebeth kan nie wag om die reeks teen die All Blacks in Baltimore te beklink nie
# Die korrupsiesaak teen die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sal Woensdag hervat in die Hooggeregshof in Pretoria. Henry Mamothame van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie sê dis uitgestel nadat haar regsverteenwoordiger ‘n mediese sertifikaat ingedien het. Mapisa-Nqakula staan tereg op talle aanklagte van korrupsie en geldwassery. Mamothame sê sy word daarvan beskuldig dat sy 4,5-miljoen-rand se omkoopgeld geëis het toe sy minister van Verdediging was – 2,1-miljoen-rand daarvan in kontant:
# Suid-Afrika se nuwe inflasieteiken van drie-persent blyk veerkragtig te wees ondanks stygende internasionale prysdruk. Volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank is daar ‘n 78-persent kans dat inflasie binne sy spelings-band van twee- tot vier-persent sal bly indien groot skokke vermy word. Die bank sê beter geankerde inflasieverwagtinge help om die ekonomie te beskerm. Olie bly die grootste risiko, terwyl selfs veelvuldige skokke ‘n 62-persent kans gee dat inflasie binne die teikenband bly.
# Die Motorbedryf-personeelvereniging sê geen hoeveelheid alkoholgebruik behoort as veilig vir voertuigbestuurders beskou word nie. Die vakbond steun die minister van Vervoer, Barbara Creecy, se voorgestelde veranderings aan die Wet op Nasionale Padverkeer om ‘n nul-persent bloedalkoholperk vir bestuurders in te stel. MISA se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die voorgestelde wet word steeds oorweeg en sal deur die kabinet en die Parlement godgekeur moet word voordat dit in werking kan tree:
Nuus uit die buiteland:
# President Volodimir Zelensky sê sy besoek aan Kanada sal fokus op ondersteuning vir Oekraïne se lugverdediging en voorbereiding vir die winter. Hy sê verskeie belangrike vergaderings en ooreenkomste word beplan, en hy sal ook met eerste minister Mark Carney vergader. Oekraïne se lugverdediging is toenemend onder druk namate Rusland sy hommeltuig- en missielaanvalle verskerp in aanloop tot die winter. Onlangse aanvalle het energie-, woon-, spoorweg- en hawe-infrastruktuur getref, terwyl Oekraïne dit al moeiliker vind om die aanvalle af te weer.
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth sê Saterdag se vierde en laast toets teen die All Blacks in Baltimore gaan ‘n riller-stryd wees, want hulle wil die reeks drie-een beklink. ‘n Nederlaag sal dit gelykop laat eindig. Die 34-jarige Etzebeth sal sy rekord vir die meeste Springbok-toetse tot 146 verhoog. Hy kan nie wag vir die geleentheid om die reeks te wen nie, maar besef dit gaan ‘n taai stryd wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-8-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-948-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-398-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….