Eko-minuut 13:30
BULLETIN 23 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Wetenskaplike en Nywerheidsraad sê die El Niño-weerverskynsel van 2023/24 is een van die vyf kragtigstes wat nog aangeteken is. Die verskynsel veroorsaak bogemiddelde temperature en ondergemiddelde reënval van November tot April. Die raad sê in Suid-Afrika is die gevolge van El Niño veral sigbaar in damvlakke wat aan die einde van dié seisoen gemiddeld ses-persent laer was as aan die einde van die somerreënvalseisoen verlede jaar. El Niño het ook tot laer mielie- en sojaboonproduksie gelei.
# Wetenskaplikes aan die Universiteit Stellenbosch doen proefnemings om meer doeltreffende en volhoubare maniere te vind om gombome te bestuur. Meer as elf-duisend gombome sal tydens die projek van 20-miljoen-rand aangeplant en proefnemings gedoen word om vas te stel hoe hulle meeding vir bronne soos sonlig en water. Die bome sal met moderne tegnologie gemonitor word. Medeprofessor Dave Drew sê gombome is waarskynlik die wêreld se mees wydverspreide loofbome en het hoë internasionale waarde as veselbron en koolstof-biomassa-bergplek.
# En, die Nelson Mandela-universiteit en die raadgewende firma Ikigai Group het befondsing van die Britse regering ontvang vir Suid-Afrika en Brittanje se gesamentlike program oor versnelde klimaats-oorgang. Die geld sal gebruik word om die lewensvatbaarheid te ondersoek vir die uitvoer van groen waterstof van die Oos-Kaap na wêreldmarkte, insluitend Brittanje, Europa en Japan. Die vise-kanselier, professor Sibongile Muthwa, sê die Oos-Kaap beskik oor talle hernubare bronne, wat die ontwikkeling van groen waterstof moontlik maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….